GEORGE NUUS - Twee verdagtes, Elmar Keffers (26) en Mediaan Jaftha (28) het Maandag 2 Desember in die George-landdroshof verskyn ná 'n aanval en roof by Hoërskool Pacaltsdorp Maandagaand, 25 November.
Hulle is drie dae later deur lede van Pacaltsdorp-polisie en die buurtwag in Rosedale aangekeer.
Die slagoffer, wie se vrou by die skool werk, het die aand omstreeks 20:30 in die parkeerarea vir sy vrou in sy motor gewag terwyl sy in 'n vergadering was. Hy is deur die verdagtes genader waarna hulle hom met 'n mes gedreig en begin steek het.
Volgens Pacaltsdorp-polisie se kommunikasiebeampte, sers. Simone Jansen, was die voertuig se venster effens oop toe die verdagtes die slagoffer genader het. Een van die verdagtes het na bewering die slagoffer se aandag afgetrek deur met hom te begin gesels waarna die ander een die slagoffer met 'n mes aangeval het.
"Hulle wou sy selfoon en beursie hê. Die slagoffer het die items toe by die motor se venster uitgegooi om die verdagtes se aandag af te trek waarna hy by die skool se kantoor gaan hulp soek het," sê sy.
Bloedspatsels kan oral in die kar gesien word.
Die slagoffer het beserings aan sy regterarm en maag opgedoen. Die verdagtes het daarna te voet met sy beursie en selfoon gevlug. Hy is per ambulans na die hospitaal geneem en sterk tans by die huis aan. Die selfoon is na bewering later in 'n smokkelhuis gevind.
Landdros Elenore Mocke het die saak tot 13 Desember uitgestel vir hulle borgtogaansoeke.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'