GEORGE NUUS - Tydens die tweejaarlikse studente-simposium van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in Pretoria op 16 Oktober, was dr. Okkie Stander van George en dr. Antionette le Roux van Klein-Brakrivier deel van 47 doktorale studente van verskillende universiteite wat referate oor hulle navorsing gelewer het.
Dr. Okkie Stander
Dr. Okkie Stander van George het sy MA aan die Universiteit van Stellenbosch behaal met die titel 'Die bewarenswaardigheid van die Kaaps-Hollandse herlewingsstyl geboue in George.' In die studie het hy ook op herlewingsstyl geboue in sommige dorpe in die Suid-Kaap gefokus, maar op dié in George gekonsentreer.
Sy studieleier was prof. Matilda Burden.
Vir sy PhD het hy 'Die voorkoms van wit armoede op Oudtshoorn tussen 1914-1937' ondersoek. Sy studieleier hiervoor was prof. Wessel Visser van die Universiteit Stellenbosch.
In die studie het hy onder ander die staat en kerk se rol tot die verligting van armoede ondersoek. Sy referaat tydens die simposium het juis oor die rol van die staat tot die verligting van armoede op Oudtshoorn gehandel.
Hy het op drie groot projekte op Oudtshoorn gekonsentreer naamlik, die bou van die Kammanassiedam in 1919, die bou van die spoorlyn tussen Oudtshoorn en Calitzdorp (1923) en die heropbou van Meiringspoort in 1925.
Stander het ook op Vrydag 18 Oktober, tydens die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kultuurgeskiedenis, in Simonstad 'n referaat oor 'Die ondergrondse bewaring van water vir die gebruik vir mens en dier' gelewer. Die referaat het die fokus geplaas op Generaal Smuts se betrokkenheid by die hulp vir boere in die distrikte van Albertinia en Stilbaai.
Dr. Antionettele Roux
Dr. Le Roux woon op die oomblik in Klein-Brakrivier en is getroud met Pieter le Roux van De Rust. Sy het haar MA onder leiding van prof. Wessel Visser van die Universiteit van Stellenbosch gedoen en het oor die geskiedenis van die landbou in die Klein-Karoo gehandel.
Haar PhD het sy aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) behaal en haar proefskrif het oor die geskiedenis van Buisplaas gehandel. Sy het uitgebreide navorsing oor die onderwerp gedoen. Haar studieleier was prof. Mike de Jongh.
Haar referaat tydens die simpodium het oor die waarde van Afrikaans as navorsingstaal in geskiedkundige navorsing gegaan. Sy het baie interessante feite gedeel oor die amper vergete deel van ons land en sy mense.
Dr. Antoinette le Roux
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'