Warning: Graphic content
GEORGE NUUS - Twee klagtes van dieremishandeling is op Vrydag 8 April deur die Tuinroete DBV by die polisie aanhangig gemaak.
Die aanklagte spruit uit twee onverwante voorvalle wat onlangs in Pacaltsdorp en Parkdene plaasgevind het.
Volgens die Tuinroete-DBV se senior inspekteur, Salomé Bruyns, het albei honde wreed gesterf - een aan die hand van sy eienaar.
"Die hond in Harmonystraat, Pacaltsdorp, is glo deur sy eienaar met 'n kapmes bygekom. Volgens die eienaar was die hond siek. Die ander hond, wat maar nog net 'n baba was, is deur 'n man teen 'n paal doodgeslaan - glo omdat hy gebreklik was. Al twee honde het 'n wrede dood gesterf," sê Bruyns.
Volgens 'n plasing op die DBV se Facebook-blad, is die eerste saak van dieremishandeling aangemeld ná die DBV uitgeroep is na 'n toneel in Pacaltsdorp waar die eienaar glo sy hond met 'n kapmes doodgekap het.
"Met haar aankoms op die toneel is inspekteur Estelanie van Wyk begroet met die eienaar wat 'n kapmes in sy hand gehad het. Toe hy gevra is waar sy hond is, het hy na 'n klein lappie gras buite sy hek gewys waar 'n vlak graf versteek was. Die hond was daarin begrawe," sê Bruyns.
Die hond is ondersoek en dood verklaar.
Volgens die plasing op Facebook was die eienaar baie aggressief toe hy uitgevra is oor die rede vir sy optrede. Hy het aan Van Wyk gesê die hond was siek, maar kon nie verder verduidelik nie.
"Van Wyk het hom gevra hoekom hy ons nie vir hulp genader het nie, en hy het bloot gesê dat dit sy hond is en hy met hom sal doen soos hy goed dink," sê Bruyns. Ná hy aangeneem het dat die hond dood is, het hy hom begrawe en glo by 'n vriendin gaan braai.
Tydens 'n nadoodse ondersoek het die veearts egter agterkom dat die hond nie net 'n marteldood gesterf het nie, maar moontlik nog geleef het toe hy begrawe is.
Die verdagte is Sondag 10 April deur Pacaltsdorp-polisie in hegtenis geneem en was geskeduleer om Maandag in die George-landdroshof te verskyn. Teen druktyd kon die polisie nog nie besonderhede rondom sy verskyning bevestig nie.
Die hond is glo met 'n kapmes deur sy eienaar doodgeslaan.
Babahond in Parkdene wreed dood
Die tweede saak van dieremishandeling wat verlede Vrydag deur die Tuinroete-DBV oopgemaak is, volg ná 'n babahond van Parkdene, glo deur 'n man teen 'n paal doodgeslaan is.
Volgens Bruyns het die man vir hulle gesê die hond was gebreklik en daarom het hy hom doodgemaak. 'n Saak van dieremishandeling is by die Conville-polisie aanhangig gemaak en die verdagte is Saterdag 9 April in hegtenis geneem. Hy sou Maandag in die George-landdroshof verskyn. Teen druktyd kon die polisie nie besonderhede rondom die hofverskyning bevestig nie.
"Dit moes 'n traumaties en aaklige manier gewees het vir hierdie arme honde om so dood te gaan. Die DBV is 24-uur per dag hier om te help met siek en beseerde diere, daar is absoluut geen verskoning vir wat met dié honde gebeur het nie," sê Bruyns.
Die babahondjie van Parkdene is glo teen 'n paal doodgeslaan.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'