GEORGE NUUS - Werknemers van 'n aantal staatsdepartemente en nie-regeringsorganisasies in George het vanoggend in die middedorp betoog om aandag te vestig op die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders wat vandag afskop.
'n Luide groep mans en vroue het seker gemaak hulle verkondig die boodskap teen gesins- en geslagsgebaseerde geweld in 'n besige Yorkstraat waar hulle op die hoek van Mark- en St Johnstraat betoog het. Hulle is beloon met ondersteunende toeters van verbygaande motoriste.
Die geleentheid is georganiseer deur Tasneem Smit van die plaaslike Thuthuzela-sentrum.
Muller Redelinghuys, senior staatsaanklaer by die Landdroskantoor, het gesê hulle optrede is om te wys dat die departemente en organisasies wat met slagoffers werk, opstaan teen geweld. "Ons wil vanoggend sê, genoeg is genoeg."
Slagoffers moet weet daar is organisasies en departemente wat hulle bystaan en wat sal voortgaan om dienste aan hulle te lewer. Daar is gevolge vir dié wat geweld pleeg.
Redelinghuys het verwys na twee hofsake van gesinsgeweld in Knysna en George waar die skuldiges in die afgelope week lewenslange tronkstraf opgelê is.
Hy het slagoffers aangemoedig om geweld aan te meld en nie stil te bly nie sodat die "pandemie" van geweld in die gemeenskap gestuit kan word.
Werknemers van die George-landdroshof was daar.
Nie-regeringsorganisasies was ook verteenwoordig.
'n Groep betogers maak hulle boodskap duidelik.
VIDEO: Muller Redelinghuys, senior staatsaanklaer, gesels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’