GEORGE NUUS - 'n Video wat gemaak is tydens 'n bakleiery tussen 'n groot groep leerders, seuns en dogters, van Hoërskool George, het sedert Dinsdagoggend, 2 Augustus, soos 'n veldbrand op sosiale media versprei.
In dié video word gesien hoe die leerders mekaar takel en in 'n baie fisieke bakleiery in 'n klaskamer betrokke raak.
Lessenaars word omgegooi en sommige leerders word op die grond neergegooi, geslaan en getrap.
Volgens Bronagh Hammond, direkteur van kommunikasie vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement, is die voorval na bewering bendeverwant.
Elf leerders is intussen geskors en staar 'n tugverhoor in die gesig.
"Ongelukkig het gebeure vanuit die gemeenskap na die skoolomgewing oorgespoel, wat gelei het tot 'n bakleiery by die skool. Kalmte is herstel en ons wag op 'n amptelike verslag oor die volgende stappe in terme van dissiplinêre en ander optrede," het Hammond gesê.
Volgens onbevestigde inligting het 'n onderonsie vroeër die oggend in die bus op pad skool toe begin en tot die bakleiery gelei kort voor die skool begin het.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, het bevestig dat hulle bewus is van die voorval deur die verspreiding van die video op sosiale media, maar dat geen formele klagte by die polisie aanhangig gemaak is nie.
Verdere inligting word nog van Hammond verwag en George Herald sal opvolg sodra meer inligting beskikbaar is..
Leerders word op die grond neergegooi en vertrap.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'