Breaking News
MOSSELBAAI NUUS - Die ondersoekbeampte in die saak van ‘n 25-jarige man van Mosselbaai wat van die besit van kinderpornografie aangekla word, moet nog deur meer as 1,2 miljoen foto’s werk wat op agt toestelle gevind is en in die verdagte se besit was.
Die toestelle sluit in selfone, skootrekenaars én geheuestokkies. Dis alles gevind in die verdagte se kamer waar hy in Da Nova bly.
Die verdagte is in 'n gesamentlike operasie deur die polisie se Eenheid vir reeks- en elektroniese misdaad en die Amerikaanse Departement Van Binnelandse sake (Homeland Security Investigations van die Amerikaanse Ambassade) vasgetrek.
Die ondersoekbeampte, Kaptein Franco Bestbier, het vanmiddag in die Mosselbaai-landdroshof getuig toe die verdagte formeel om borgtog aansoek gedoen het. Die staat staan sy borgaansoek teen.
Bestbier het getuig dat die intensiewe operasie om vervaardigers, verbruikers en verspreiders van kinderpornografie vas te trek, reeds op 15 Januarie begin het.
Die verdagte is op 2 Februarie in hegtenis geneem ná Homeland Security sy selfoon ontleed en op minstens 48 foto’s van kinderpornografie op dié toestel afgekom het. Agt toestelle, wat in die verdagte se besit was, word nog nagegaan.
Die verdagte se ma het die hofsaak bygewoon. Hy mag nie geïdentifiseer word totdat hy gepleit het op die aanklagtes teen hom nie.
Kaptein Franco Bestbier
Bestbier, wat al verskeie sake van kinderpornografie in sy loopbaan van 34 jaar hanteer het, het aan die hof gesê hy het die inligting van Homeland Security ontvang en kon slegs na drie van 48 foto’s kyk omdat dit vir hom traumaties was. Hy het aan die hof gesê die foto’s was eksplisiet.
Op ‘n vraag van advokaat Gerda Marx oor hoe sterk die staat se saak teen die verdagte is, het Bestbier geantwoord: "Die staat het ‘n baie sterk saak. Die beskuldigde het kinderpornografie op sy foon. Daar is spesiale roetes wat gevolg moet word om sulke kinderpornografie te kry.”
Hy het gesê die staat staan borgtog teen omdat hulle nie die verdagte se bewegings sal kan monitor indien hy vrygelaat word nie.
“As hy ‘n foon het, kan hy dalk ander gebruikers wat deel is van die netwerk waarsku en hulle van die ondersoek, wat hangend is, inlig.”
Bestbier het gesê die verdagte het toegang tot kinderpornografie gekry terwyl sy familie in dieselfde huis as hy was en dat niemand hom - indien hy vrygelaat word - sal kan verhoed om weer toegang tot dit te kry nie.
“Die gemeenskap van Mosselbaai sal geskok wees indien die hof borgtog aan die verdagte toestaan.”
Die verdagte in Mosselbaai is een van vier in die Wes-Kaap, wat tydens ‘n intensiewe operasie as ‘n persoon van belang geïdentifiseer is.
Bestbier het gesê die minimum vonnis is vyf jaar tronkstraf op elke aanklag teen die verdagte en dat daar ‘n swaard oor die verdagte se kop hang en hy moontlik sal wil vlug en dus ook ‘n vlugrisiko is.
Die verdediging het dit aan die hof gestel dat die verdagte aan die regterkant gedeeltelik verlam is (sy regterhand het nie volle werking nie) en kreupel loop.
Bestbier het hierop geantwoord dat die tronk ook kan kyk na mense wat mediese versorging nodig het.
Die saak is uitgestel na 13 Maart wanneer die staat Kaptein Shaun van der Heever van Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se ondersoekende sielkunde-afdeling sal roep om te getuig.
Die verdagte bly in aanhouding.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’