GEORGE NUUS - Teen 15:30 vanmiddag het die ANC nasionaal voorgeloop met 47,02% van die stemme, met die DA tweede met 22,87% en die EFF op 9,794%.
In die Wes-Kaap lyk die prentjie egter anders. Teen 15:30 was die DA voor met 51,24%, die ANC het 21,57% gehad en Good met 4,54% in die derde plek.
In die Kaapstad Metro lyk dit asof die DA se burgemeesterskandidaat, Geordin Hill-Lewis maar sy moue kan oprol vir die groot taak wat voorlê met die party wat op die stadium 61,85% van die stemme het. Die ANC staan op 14,01% in Kaapstad en die CCC het 4,68% van die stemme. Die prentjie kan natuurlik nog heelwat verander soos die stemme getel word.
In George het die Good Party die meeste stemme by Kids Stop in Borchards in Wyk 20 gekry, maar Heidedal Primêr se stemme in die wyk moet nog klaar getel word.
Dit lyk ook asof Good Wyk 27 in Pacaltsdorp gevat het, maar die VGK-kieslokaal se stemme in die wyk is nog nie bekend nie. Good doen ook goed in Wyk 17, waar die party die meeste stemme by Conville Primêr gelok het, maar die uitslag by die Rosemoore-sentrum in dié wyk word steeds afgewag.
Die DA het die meeste stemme by die Lutherse kerk in Rondevlei in Wyk 24 gekry, maar vier kieslokale in die wyk se stemme is steeds onbekend.
Die DA het in Wyk 5 by Hibernia Primêr in Pacaltsdorp geseëvier, maar die stemme by Van Kervel-skool in dieselfde wyk is nog nie beskikbaar nie.
Die DA het die meeste stemme by die NG-kerk in Wyk 18 gekry, maar die Moth-saal se stembriewe kort nog. Die kiesers in Wyk 8 wat by die St Liborius Katolieke Kerk gestem het, het die DA gekies, maar die stemuitslag van die Parkdene Laerskool-kieslokaal in dieselfde wyk is ook nog nie bekend nie.
Kleinkrantz, ‘n deel van Wyk 4, het ook grootliks DA gestem, maar die twee ander kieslokale se uitslag by die NRSI in Wildermess en die kieslokaal in Touwsranten is nog onbekend.
In Wyk 25 het die meeste kiesers op Ezeljacht vir die ANC gestem, terwyl die Rooirivier- en Hartebeesstemlokale se kiesers die DA gekies het.
Die Lyonville-kieslokaal in dieselfde wyk se telling is steeds onbekend.
Die kiesers van wyk 23 wat by Duttons Cove-vakansieoord en Laerskool Van der Hoven gestem het, is meesal DA-ondersteuners, maar stemme in dié wyk by Carpe Diem en Delville Park-skole is nog onbekend.
Kiesers by die Isiseko Educare-sentrum in Wyk 9 in Thembalethu het die ANC gekies en so ook die meerderheid van kiesers van Waboomskraal (Wyk 22) wat by die Multipurpose-sentrum gestem het.
Die DA het egter die botoon gevier by Wyk 22 se drie ander kiesstasies op Geelhoutboom, Pine Lodge en die VGK op Herold.
Nog verkiesingsnuus volg later vanmiddag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'