GEORGE NUUS - Alred du Plessis, ’n 43-jarige pa van drie jong kinders, het ’n tweede kans op lewe gekry nadat sy swaer, Henro Nel (36), sy een nier aan hom geskenk het deur ’n nuwe prosedure wat oorplanting moontlik maak in gevalle waar die skenker se bloedgroep nie noodwendig versoenbaar is met die ontvanger s’n nie.
Waar Du Plessis dalk vir jare vir ’n skenker van die O-bloedgroep sou moes wag, was dit moontlik om sy swaer, wat A2-tipe is, se nier in hom oor te plant met ’n goeie kans dat sy liggaam dit nie sou verwerp nie. Die operasie is op 18 November in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gedoen.
Die prosedure wat dit moontlik gemaak het, is kruispassing (crossmatching). Du Plessis is die twintigste pasiënt in die land wat ’n nieroorplanting danksy hierdie prosedure ondergaan, verduidelik sy dankbare vrou, Yozelde.
“Ons hele gesin gaan ’n nuwe lewe hê. Niemand kon vir ons ’n groter geskenk gegee het nie. Die boot en ski’s staan vir ons en wag. Die kinders is baie opgewonde.”
Die twee pasiënte is slegs 10 dae na die operasie, op Vrydag 28 November, ontslaan. “Gewoonlik bly die ontvanger vir twee tot drie weke in die hospitaal, maar Alred se toestand het so gou verbeter na die oorplanting dat hy Vrydag kon huis toe gaan. Voor die operasie was sy kreatinienvlakke 1 300, maar dit het dadelik na die operasie geval na 800 en nou is dit onder 200. Beide die manne sterk mooi aan. Ons het werklik aan die Here vasgehou deur hierdie hele proses en ons glo die Kruis het die crossmatch gemaak.”
Du Plessis was vir die afgelope drie jaar op dialise waarvan die grootste gedeelte op tuisdialise was, voordat hy na ’n plaaslike dialisekliniek gegaan het nadat hy drie keer infeksies opgedoen het.
Tuisdialise was ’n uitmergelende nege ure daagliks. By die kliniek moes hy drie maal per week van 04:00 tot 10:00 gekoppel aan die dialisemasjien lê. Hy sê dit was drie jaar van hel.
Nel sê hy het op die internet gelees van die nuwe prosedure. Hy vertel, “Die aand van 17 Junie het die Here dit op my hart gedruk om myself oop te maak as ’n skenker. Ek het eers gedink ek droom, maar op 6 Julie het Hy duidelik vir my gewys wat ek moet doen, en bevestig dat ek my nier vir Alred moet skenk.
"Ek is baie dankbaar om deel te kon wees van God se wonderwerk. God gebruik gewone mense soos ek en jy, en wonderwerke gebeur beslis nog. Ek wil graag vir almal daarbuite sê, lewe elke dag voluit en onthou altyd waar ons krag vandaan kom. Jesus is alive."
Swaers nou gebind deur 'n baie nouer band. Alred dra een van Henro se niere.
Du Plessis sê daar was vir hom geen vooruitsig op 'n toekoms nie. "Toe Henro my bel en sê hy wil help, het ek gedink hy maak ’n grap! Ons het nie regtig geweet wat om te verwag van crossmatching nie, omdat dit nog baie nuut is. Maar my dokter, Alda Vermeulen wat altyd positief is, het my rustig gemaak.
"Ses maande later was ons in Kaapstad vir die oorplanting, met steeds nie ’n idee wat op ons wag nie. Die oorplantingspan van die Kaapstadse Universiteit, met prof. Elmie Muller aan die stuur, het ons só welkom laat voel en ons net weer vrede gegee.
"Daar was min slaap die dag voor die operasie, maar met ’n bonatuurlike vrede in my en Henro se harte, het ons ons beurt afgewag vir ons tyd in teater. Henro was eerste en drie ure later was dit my beurt. Vriende en familie wat ons kom ondersteun het, het die drie ure vir my soos drie minute laat voel. My operasie het twee ure geduur. Wie sou kon dink dat jou lewe handomkeer binne twee ure kan verander?”
Toe hy uit die teater kom, het hy gehoor alles het goed afgeloop. “Dit voel steeds soos ’n droom. Alles proe anders, alles ruik anders, alles lyk anders.* Dankie Henro, dat jy my lewe kom verander het. Dankie dat jy bereid was om ’n deel van jou te gee om my weer ’n kans te gee om voluit te lewe. Crossmatching was vir ons soos ’n rivier in die woestyn. Henro is nie my broer nie, maar my match. Dankie aan die Here!”
*Wanneer 'n mens se niere nie funksioneer nie, verloor jy tot 'n groot mate jou reuk en smaak weens die opbou van toksiene in die bloed.
Yozelde sê hulle hoop dat hulle storie ander mense kan bemoedig. “Danksy die nuwe prosedure is die moontlikheid baie hoër om ’n gepaste orgaanskenker vir iemand te kry en is daar werklik hoop. Dit was vir ons ’n antwoord op gebed en ons wonderwerk van Bo.”
George Herald het uitgereik na dr. Vermeulen wat later meer inligting oor kruispassing sal vertel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’