GEORGE NUUS - Die Simon van der Stel-stigting bied op Saterdag 6 Desember 'n uitstappie aan na Herold wat beloof om ’n dag van lekker kuier in die pragtige natuurskoon van die area te wees.
Die dag se program skop af om 10:00 en bied interessante gesprekke, ’n mooi staproete en ’n gesellige piekniek.
Die publiek word uitgenooi om die geleentheid by te woon. Moertjiesklip Padstal is die ontmoetingspunt. Parkering is gerieflik op die grasperk oorkant die NG Kerk-saal.
Registrasie vind tussen 10:00 en 10:30 plaas, waarna Natie de Swardt en Theo Adams tussen 10:30 en 11:00 interessante gesprekke oor die geskiedenis van die Montagupas en die tradisionele kaukou-tee sal aanbied.
Om 11:00 vertrek die bakkies na die bopunt van die Montagupas, vanwaar deelnemers ’n 2.1 km-staproete met die pas af aanpak. Die roete word as veilig beskryf, met min erosie en pragtige uitsigte. Die groep keer daarna terug na die bopunt en vertrek 12:15 terug na Moertjiesklip Padstal.
Die dag word afgesluit met ’n piekniek om 12:30, waar deelnemers hul kos en drank kan geniet. Tafels en stoele is by die lokaal beskikbaar, maar dié wat onder die pergola wil ontspan, word gevra om ’n kombers of hul eie stoele saam te bring.
Moenie vergeet om water vir die stap in te pak nie.
Kom geniet die natuur en die gemeenskap.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’