GEORGE NUUS - Pacaltsdorp Primêr het verlede week met trane en trots afskeid geneem van Verna-Lee Libbok (28), geliefde wiskunde-onderwyseres, wat binnekort na Japan vertrek om by haar man, die Springbok-losskakel, Manie Libbok, aan te sluit.
Manie (28) het onlangs by die Kintetsu Liners aangesluit, 'n skuif wat vir die paartjie 'n heel nuwe hoofstuk in hul lewe beteken.
"Ek moes eers gewoond raak aan die idee van Japan," vertel Verna-Lee aan George Herald. "Maar nou is ek opgewonde oor die nuwe avontuur wat voorlê. Ek gaan my familie, kollegas en leerders ongelooflik baie mis - dis nie maklik om hulle agter te laat nie."
Vir die afgelope ses jaar was sy deel van die Pacaltsdorp Primêr-familie, waar sy as toegewyde en passievolle onderwyseres diep spore getrap het. Vrydag is sy met gebede, trane en warm woorde gegroet, 'n gepaste afskeid vir iemand wat soveel beteken het vir haar skoolgemeenskap.
"Ek gaan die onderwys ongelooflik mis," sê sy. "Om met kinders te werk en deel van hul groei te wees en 'n impak op hulle lewens te maak, het vir my groot vreugde gebring."
Pacaltsdorp Primêr se skoolhoof, Edwin Manuel, beskryf Verna-Lee se weggaan as 'n groot verlies vir die skool.
"Verna-Lee het ongelooflike vaardighede saamgebring en het die waardes van die Transform to Perform-program ten volle uitgeleef," sê Manuel.
"Sy het nie net die skool en departement se waardes nagestreef nie, maar dit elke dag uitgeleef en bevorder by die skool. En daarmee het sy opvoeders se moraal gelig."
Verna-Lee Libbok (28) is verlede week op 'n gepaste wys met mooi gebede by Pacaltsdorp Primêr, waar sy die afgelope ses jaar onderwys gee, gegroet.
Volgens hom het sy natuurlik leiding geneem en ander mense saamgebring om by haar projekte te help. "Sy het die vermoë gehad om die goeie in mense raak te sien, hul potensiaal te herken en te help ontwikkel.
"Op die sportveld het sy groot bydraes gelewer, veral met netbal, en ook by kulturele aktiwiteite, soos die Ouma Sarie-vertoning waar sy ons danspassies aangeleer het."
Manuel onthou toe hy haar vir die eerste keer ontmoet het - langs die krieketbaan. "Ons skool het gespeel. Sy was nog nie deel van ons skool nie, maar het reeds daardie dag 'n indruk op my gemaak."
Hy sê Verna-Lee het groot waarde tot die skool toegevoeg. "Haar toewyding en opregte liefde vir ons kinders - en dit het sy in tonne gebring - het haar laat uitstaan.
"Sy het respek betoon teenoor almal by die skool en het 'n natuurlike vermoë gehad om met ouers te skakel."
Een van haar inisiatiewe was om 'n nuwe kommunikasiestelsel vir die gr. 4's in te stel, wat die samewerking tussen ouers en onderwysers aansienlik verbeter het.
"Ons is jammer om haar te verloor," sê Manuel. "Maar ons is trots op haar en wens haar net die beste toe vir die nuwe hoofstuk wat voorlê."
Japannese kultuur, kos en mense
Verna-Lee sê sy sien uit daarna om die Japannese kultuur, kos en mense te leer ken.
Sy beskryf haarself as iemand wat nie kan stilsit nie en beplan om aanlyn verder te studeer en virtuele klasse aan te bied terwyl sy in Japan woon. Haar droom is om eendag aan 'n universiteit te doseer.
Manie Libbok en vroulief, Verna-Lee, vier vandeesmaand hul eerste huweliksherdenking. Foto: Instagram
"Rugby is Manie se werk, en ek weet hy doen wat die beste is vir ons toekoms. Ons het nog altyd die langafstandding gedoen, selfs ná ons troue.
"Ons ondersteun mekaar in alles wat ons doen," sê sy.
Die stoere Stormers-ondersteuner spot dat sy nog nie weet vir wie sy gaan skree as die wedstryde begin nie, "maar tyd sal leer". Sy voeg egter by dat sy altyd Manie en die span vir wie hy speel sal ondersteun.
Verna-Lee vertrek volgende maand na Japan, waar 'n nuwe avontuur en lewe wag. Of soos sy sê - Kon'nichiwa!
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’