GEORGE NUUS - 'n Pa van George het hom boeglam geskrik toe 'n polisiekonstabel, wat glo van diens af was, 'n vuurwapen teen sy bors druk ná 'n ligte botsing in Nelson Mandela-boulevard. Dié voorval het Vrydag 3 Oktober omstreeks 18:30 plaasgevind.
Elvandre Esau (33) was saam met sy elfjarige seun, sy seun se maatjie, sy suster en ma onderweg in Nelson Mandela-boulevard (ou Sandkraalpad) met hul silwerkleurige Toyota Corolla om 'n pakkie by sy broer in Thembalethu te gaan optel.
"Die gebeurtenis het my seun só getrau-matiseer dat hy nie meer daarvan droom om eendag 'n polisieman te word nie," sê die seun se ma, Naellowine Hector.
Volgens Esau het hulle naby die Thembalethu-daghospitaal gery toe 'n voertuig van agter in hulle vasry. "Soos ek regs draai in 21ste Straat, tref die kar my regtervoorwiel. Ek verloor toe beheer en kom aan die oorkantste sypaadjie tot stilstand," vertel hy.
Esau sê die ander bestuurder het sowat 50 meter verder gestop. "Ek kon ruik hy het alkohol gedrink."
Terwyl Esau en sy ma die skade bekyk het, het vroue in die ander voertuig glo begin inmeng. "Ek het gesien die man wil net ry. Ek het hom gevra om te bly en vir die polisie te wag. Hy het sy motor in rat gesit. Toe ek sy selfone vat om te keer dat hy wegry, het hy 'n pistool teen my bors gedruk."
So lyk Elvandre Esau se voertuig na 'n botsing met 'n konstabel van George-polisie.
Esau sê die man het daarna weggejaag. Een van die selfone wat agtergebly het, het die bestuurder se identifikasie bevat. "Toe die polisie opdaag, het ek die identifikasie vir hulle gegee. Aan hul reaksie kon ek sien hulle ken hom. Hy is toe glo 'n konstabel by die George-polisie."
Provinsiale polisiewoordvoerder lt.kol. Malcolm Pojie het bevestig dat die Thembalethu-polisie ondersoek instel na roekelose en nalatige bestuur sowel as die rig van 'n vuurwapen teen 'n 42-jarige polisielid wat nie aan diens was nie.
"Na voltooiing van die ondersoek sal die dossier aan die senior staatsaanklaer voorgelê word vir 'n besluit oor moontlike vervolging. 'n Departementele ondersoek loop parallel met die kriminele ondersoek," het hy gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’