GEORGE NUUS - 'n Gr. 11-leerder van Hoërskool George, Lakisha Innes, het haar skool en onderwysers in vervoering met haar aanwysing as naaswenner in die Wes-Kaapse been van die Financial Literacy Speech Competition (FLSC).
Lakisha se toespraak, getiteld, From allowance to investment: Teaching teenagers the power of saving and investing early, het die beoordelaars beïndruk en haar groot lof besorg.
Sy is met arms vol pryse terug huis toe - onder meer 'n belegging van R20 000, 'n tablet, 'n trofee, sertifikate en geskenkbewyse.
Die skool het Lakisha in hul Facebook-inskrywing 'n "ware inspirasie en rolmodel vir ander jongmense" genoem. "Ons vier jou groot prestasie saam," lui die boodskap.
Lakisha se ekonomie-onderwyser, Darren Arries, en nog 'n onderwyser van Hoërskool George, Ashley Engelbrecht, het saam met haar na Kaapstad gereis waar die funksie op 26 September plaasgevind het.
Juffrou Clemizia Cupido, die ekonomie-vakadviseur, het 'n spesiale woord van dank van die skool ontvang. Arries sê hy is verskriklik trots op Lakisha: "Haar toewyding, fokus en deursettingsvermoë het haar hierdie welverdiende sukses besorg."
Volgens Engelbrecht wys haar prestasie dat dissipline en passie werklik geleenthede kan oopmaak. "Ons glo dit is net die begin van nog baie sukses wat voorlê," sê hy.
Die kompetisie word jaarliks deur die Financial Sector Conduct Authority (FSCA), in samewerking met die Financial Services Consumer Education Foundation (FSCEF) aangebied. Die doel van die kompetisie is om jongmense aan te moedig om hul idees oor finansiële geletterdheid, spaargeld en beleggings op 'n kreatiewe manier te deel.
Die nasionale been van die kompetisie vind op 17 Oktober in Kaapstad plaas. Die topdrie nasionale finaliste ontvang beleggingspryse en volle studiebeurse vir 'n driejaarkwalifikasie aan enige openbare universiteit in Suid-Afrika, ter waarde van R580 000.
Hoërskool George het Lakisha in hul Facebook-inskrywing ’n “ware inspirasie en rolmodel vir ander jongmense” genoem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’