GEORGE NUUS - Dit was een van Simon Bruinders se laaste verhoogoptredes, en hy het gekies om dit by Hoërskool George aan te bied, die skool waar hy grootgeword het. Bruinders stap aan en daar is nie herhalings op die verhoog nie. Hy beplan wel om voort te gaan met televisieprojekte.
Die vertoning dra 'n belangrike boodskap en bied 'n historiese terugblik op die storie van George se bruin gemeenskap - hoe hulle ontwortel is, en hoe daardie gebeure 'n groot rimpeleffek gehad het op identiteit en selfwaarde. Die gevolge daarvan is vandag nog sigbaar.
Met groot deernis bring Bruinders die boodskap tuis. Sy vertolking gee 'n stem en 'n eerlike blik op 'n deel van Suid-Afrikaanse geskiedenis wat baie mense verkies om te vergeet.
Hy en mede-akteur Vanessa Swartz het dit reggekry om die gehoor op 'n storiewandeling te neem - een met groot hoogtepunte en diep, donker valleie. Soms was die waarheid wat met soveel integriteit en perspektief vertolk is, moeilik om in die oë te kyk. Soms was die hartseer net te veel. Tog het Simon en Vanessa nie teruggestaan nie. Hulle het met eerlikheid en moed deur die pyn beweeg.
Simon Bruinders
Sonder ons stories, ons verlede en die kennis waar ons vandaan kom, het ons geen wortels nie - en sonder wortels is daar geen geborgenheid nie. Wat hulle met hierdie stuk reggekry het, is van onskatbare waarde vir die deel van ons gemeenskap wat agterweë gelaat en ontneem is van die geleenthede wat hulle verdien het in 'n tyd toe hulle op die rand van ontwikkeling gestaan het.
Bruinders self is 'n toonbeeld van iemand wat besluit het om bo sy beperkinge uit te styg. Sy boodskap is duidelik: Weet waar jy vandaan kom. Voel die seer in jou hart, maar moenie vergeet wie jy regtig is nie. En moet nooit toelaat dat enigiets of iemand jou van jou waarde as mens ontneem nie. Vat jou lewe by die horings, grondpad of nie, en loop daai pad met oorgawe.
Die stuk is gebaseer op Bruinders se boek, Die Sideboard, en is saam met Zane Meas geregisseer.
Die gehoor is verder vermaak met indrukwekkende vertonings deur Voldi George, Germaine Leonard, Devon Bell en Jaydee Potts. Met hulle stemme en musiek het hulle voorbrand gemaak vir Die Sideboard en Die Vuur - 'n vuur wat hopelik nog lank sal brand in die harte van almal wat deur hierdie kunstenaars se werk geraak is.
Die vertoning is moontlik gemaak deur die George High Alumni Association NPO - 'n groep oudleerders met 'n hart vir hul gemeenskap. Hulle doel is om leerders en skoolverlaters van Hoërskool George te bemoedig en te ondersteun met basiese behoeftes en die hulpbronne om hul drome te verwesenlik.
Die organisasie het reeds talle gedetermineerde studente ondersteun en die geleentheid gegee om 'n sukses van hul lewens te maak. Om 'n donasie te maak of meer inligting te bekom, kan u die organisasie kontak by 083 449 2047 of stuur 'n e-pos na georgehighalumni@gmail.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’