GEORGE NUUS - Die ATKV-tak Sommer Net Ons, in samewerking met DEAFSA en die George-munisipaliteit, bied op Saterdag 18 Oktober 'n spesiale bewusmakingsoggend aan oor Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) as erfenistaal.
Hulle nooi die gemeenskap uit na die geleentheid wat van 09:00 tot 13:00 gehou word by die NG Moederkerk, George.
Die projek bied die gehoorgestremde gemeenskap 'n platform om deel te wees van die vieringe van Afrikaans se 100-jarige erfenis, en beklemtoon die belangrikheid van inklusiwiteit en toeganklikheid.
Gaste kan uitsien na 'n inspirerende toespraak deur Vicki Fourie, Suid-Afrikaanse filmmaker, skrywer, motiveringspreker en gestremdheid-aktivis.
Ten spyte daarvan dat Vicki met 97% gehoorverlies leef, het sy ’n invloedryke loopbaan opgebou deur haar dapper, outentieke storievertelling wat die ervarings van mense met gestremdhede uitlig, veral uit die dowe en hardhorende gemeenskappe.
'n Kragtige rieldans-optrede is ook op die program.
Gaste kan ook die geleentheid benut om brûe te bou tussen horende en dowe gemeenskappe.
Alle verteenwoordigende rade van plaaslike hoërskole word genooi om te registreer by sommernetonsatkv1@gmail.com.
"Moenie hierdie betekenisvolle dag misloop nie - kom wees deel van 'n viering wat taal, kultuur en mense sáámbring," nooi Ruzanne van Beulen van ATKV Sommer Net Ons.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’