GEORGE NUUS - ’n Bejaarde van George het einde Julie hard met moeder aarde kennis gemaak toe hy op die sypaadjie in Yorkstraat, voor die Enrico Court-woonstelle neergeslaan het.
Chris Janse van Rensburg (67) moes per ambulans na George-hospitaal geneem word, waar hy behandeling ontvang het.
Die ligamente in sy linkerknie en -enkel het geskeur en hy het rugspasmas ondervind. Hy is steeds op ’n kruk na die ongeluk, en is sy selfoon kwyt, want dit is stukkend na die voorval.
Janse van Rensburg is die josie in vir George-munisipaliteit oor die toestand van die sypaadjies, wat hy reeds in 2023 onder George Herald se aandag gebring het. “Kyk net hoe lyk dit,” sê hy tydens ’n ter plaatse besoek Maandagmiddag.
Die sypaadjie wat voor Tiger Wheel & Tyre verbyloop, enkele meters van sy val, is in ’n bedenklike toestand. Daar waar hy geval het, het George-munisipaliteit intussen opknappingswerk gedoen, nadat hy ’n eis ingedien het. Sy eis is egter afgekeur.
In ’n brief aan George Herald verduidelik Janse van Rensburg dat hy deur ’n beampte in die eise-afdeling meegedeel is dat, omdat die munisipaliteit nie bewus was van die toestand van die sypaadjie nie, sy eis nie geldig is nie. Hy beweer dat die opknappingswerk gedoen is ’n dag nadat hy die eis ingestel het.
Munisipale kommunikasiebeampte, Debra Sauer, het bevestig dat sy klagte op 31 Julie ontvang is.
“’n Terreininspeksie is deur ons siviele ingenieursdienste uitgevoer, en daar is gevind dat die sypaadjie deur boomwortels opgelig is,” sê Sauer.
“Die saak is by die prioriteitslys vir herstelwerk gevoeg en is op 20 Augustus opgelos. In die lig van bogenoemde, is dit duidelik dat die munisipaliteit nie nalatig was in hierdie saak nie en dus nie die eis kon ondersteun nie. Geen verdere kommentaar sal gelewer word nie.”
Chris Janse van Rensburg by die plek waar hy geval het. Die oneweredige oppervlakte van die sypaadjie is intussen met sement behandel in ’n poging om dit meer eweredig te maak. Die ligte strook op die foto wys waar die nuwe sement gebruik is. Foto's: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’