GEORGE NUUS - ’n Ywerige 83-jarige fietsryer, Jakkie van der Colff, is verlede Woensdag, 17 September, deur ’n motoris van sy fiets af gery toe hy dit vir die eerste keer in baie maande weer op sy fiets gewaag het ná ’n vorige ongeluk.
“Ek het hard geval. My valhelm het ’n groot hou geabsorbeer en toe het my gesig oor die teeroppervlak geskuur. Ek het wonder bo wonder niks gebreek nie en het net ’n gat onder my ken en diep skrape opgedoen.
"Ek was uit soos ’n kers. Hoe lank, weet ek nie. Toe ek half bykom, was die polisie en ambulans reeds op die toneel. Die man het op die toneel gebly tot ek met ’n ambulans daar weg is.”
Die voorval het op die N2 tussen die Thembalethu- en Pacaltsdorp-afritte gebeur.
Jakkie is ’n ervare fietsryer wat al baie kilometers afgelê het. In 2019, op 77-jarige ouderdom, het hy manalleen van die Voortrekkermonument in Pretoria tot by die Taalmonument in die Paarl gery om bewusmaking te skep vir die Voortrekker-jeugorganisasie. Dit was ’n tog van 2 700 km deur vyf provinsies en 50 dorpe. Hy het nog ander uithouritte gehad, soos in 2021 op 80-jarige ouderdom toe hy van Pretoria na die Bloedrivier-erfenisterrein in KwaZulu-Natal gery het.
Voor verlede week se voorval kon hy vir lank nie fietsry nie, want hy was hy aan die herstel na ’n ander ongeluk en twee operasies.
“Eers het ’n man in my vasgery in Hoekwil toe ek in ’n smal straat gestap het waar daar baie mense was. Dit was ses weke voor my ribspiere herstel het en nou is vasgestel dat daar eintlik twee ribbe gebreek was.
"Daarna het ek ’n handoperasie gehad wat lank gevat het om te reg te kom en toe ’n lensvervanging. Verlede week was die eerste keer dat ek gevoel het ek is nou weer gereed om die pad aan te durf,” sê hy.
Volgens Van der Colff het die bakkie hom van die kant af getref. “Dit het my reg op die voorwiel getref. Die fiets het ’n gebreekte spieël en die saal skaafmerke. Ongelooflik dat hy nie erger skade opgedoen het nie.
"Ek was in die geel baan toe dit gebeur het en het nogal ’n skouerband gedra waarop staan, ‘Kom ons deel die pad’, met ’n duidelike teken dat voertuie minstens 1.5 m moet verbyhou.”
Die gebelgde Van der Colff sê fietsry behoort nie gevaarlik te wees as jy en ander padgebruikers by die verkeersreëls hou nie. Hy het die voorval by die polisie aangemeld, wat dit ondersoek.
Hy wil graag die vrou wat op die toneel by hom gesit het, dankie sê en probeer haar opspoor. Sy was ook by die hospitaal om na sy welstand te verneem.
“’n Paar mense sê nou ek moet ophou fietsry, maar dit maak mos nie sin nie. As ’n meubelmaker sy vinger per ongeluk afsaag, gaan hy ophou werk? Ek glo nie. Hoe kan mense verwag ek moet ophou fietsry en iets opgee wat ek geniet. Moet ek nou sit en TV kyk of boek lees, vir die berge kyk?
"As ’n mens ’n hobbel in jou pad kry en jy kom anderkant uit, gaan jy aan met jou lewe. Dis die persoon wat val en weer opstaan wat by die wenpaal aankom. Sodra ek reg is, is ek weer op my fiets. Oefening hou ’n mens geestelik en liggaamlik fiks.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’