TUINROETE NUUS - Wintertyd en waterveiligheid is nie twee woorde wat mense dink bymekaar pas nie, want wanneer ons aan winter dink, kom koue, sneeu en reën ter sprake.
Dit beteken egter dat die damme, riviere en kanale voller raak en dus is waterveiligheid en die beskerming teen verdrinkings van die belangrikste aspekte waaraan gereeld aandag geskenk moet word.
Tydens wintermaande word waterveiligheid maklik agterweë gelaat en kan dit groot hartseer veroorsaak.
Die waterveiligheidsprogram van die nasionale seereddingsinstituut (NSRI) bied nou, gedurende grendeltyd, virtuele lesse aan om kinders van die gevare naby water bewus te maak.
Tydens die wintermaande en veral met grendeltyd, is meer kinders tuis. Die NSRI deel onderstaande wenke:
Ouers moet kinders van jongs af leer dat hulle nooit alleen naby water mag speel nie. Kinders kan in so min as 4 cm water verdrink.
Indien naby water, sorg dat jy ten minste 'n armlengte van jou kind af is.
Visdammetjies, fonteintjies, toilette, slote, waterbakke van diere en skottels vol water wat buite staan, is enkele voorbeelde waarin kinders kan verdrink.
Moet nooit jou kinders alleen laat nie.
Leer KPR en ken die noodnommer (112).
Skole en speelgroepies is welkom om vir Caville Abrahams te kontak by 071 871 9664 of stuur 'n e-pos na caville@searescue.org.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'