GEORGE NUUS - Minstens 1 000 vroue sal na verwagting op Vrydag 31 Mei bymekaarkom vir 'n konferensie by die Christian Revival Church (CRC) in George. Die doel van die konferensie is om vroue toe te rus en te inspireer.
Dit is 'n jaarlikse geleentheid en het sedert dit die eerste keer, vier jaar gelede aangebied is, jaarliks gegroei.
Afgevaardigdes van oor die Tuinroete wat plekke soos George, Mosselbaai en Knysna insluit, sal dit bywoon.
Die hoofspreker vanjaar is pastoor Nyretta Boshoff. Sy was een van die stigterslede van die kerk saam met haar man, At, 25 jaar gelede in Bloemfontein.
Volgens pastoor Wilna Vermaak, senior pastoor by die George-gemeente, wil hulle vroue bemagtig om te kan terugploeg in byvoorbeeld hul families, gemeenskappe en werksplekke.
"Vroue het nou 'n geleentheid in die palm van hulle hand om 'n verskil te kan maak. Die kerk se rol is om vroue te begelei en te ondersteun."
Sy glo vroue kan 'n groot verskil maak in die Tuinroete en plaaslik in George. Vroue speel 'n belangrike rol in gemeenskappe. Tye het verander. Die kerk se uitgangspunt, is spreekwoordelik, dat vroue nie meer kaalvoet in die kombuis moet staan nie.
"Hulle moet draers wees van die lewe wat aan hulle gegee is."
Almal is welkom om dit by te woon en dit gaan nie oor iemand se kerkverband nie.
Belangstellendes kan vir Jean du Plessis skakel by 083 259 3573 vir meer inligting.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'