GEORGE NUUS - Een van Tuiniqua-versorgingsentrum se inwoners, Annalie Calitz het pas haar vyfde digbundel, Hoë hawe in vlakte, uitgegee.
Die bekendstelling by Tuiniqua is bygewoon deur 'n klompie uitgelese gaste. Myra Lochner, van KREATIV SA, die uitgewer van Annalie se digbundel, het die oriëntasie van die boek op meesterlike wyse gedoen en die gaste op 'n wonderlike reis deur die bundel geneem.
Sy het beklemtoon dat 'n mens jou nie kan losmaak van die pyn en teenspoed van die verlede nie, want dit is juis dit wat help slyp aan jou karakter, en hoe jy dieselfde dinge in die toekoms kan hanteer.
Hierdie feit kom baie sterk in die bundel na vore. Nadat Annalie self 'n aantal van haar mees geliefde gedigte voorgelees het, het Arjan Meijers op spitsvondige wyse die werklike Annalie aan die gaste bekendgestel.
"Tuiniqua is nie min trots op die prestasie van een van hul geliefde inwoners nie," sê Alani Voigt, die sentrumhoof.
Op haar beurt het Annalie, wat die volgende dag een van die bundels aan die biblioteek in die sentrum geskenk het, onder groot applous van die inwoners hulle geloof vir die inspirasie en ondersteuning wat sy van hulle ontvang.
Daar word met groot verwagting uitgesien na haar volgende bundel, waarvan sy meer as 40 gedigte reeds neergepen het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'