Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Tussen hulle, is hulle bykans 'n allemintige 110 jaar getroud. Die vier inwoners van Tuiniqua in George is egter nog net so erg oor hulle wederhelftes soos die dag toe hulle meer as 50 jaar gelede kansel toe is.
En ja, die twee egpare vier elke jaar Valentynsdag.
Ontmoet Anne en Ronnie Atkins wat 51 jaar getroud is en Susara en Edward Durrant wat 58 jaar getroud is.
Anne en Ronnie is op 30 Desember 1976 getroud. Ronnie se oupa en ouma was Anne se ouers se bure.
Hulle is gekys toe Ronnie 15 jaar oud was en Anne 13 jaar oud.
Hulle het egter 10 jaar gewag voordat hulle getroud is. Hulle families het mekaar goed geken en hulle is dit eens dat mense in vandag se tye te maklik trou.
Die egpaar se advies aan jongmense is om mekaar eers goed te leer ken voordat jy "'n huis en meubels" koop.
Volgens Anne gee paartjies in vandag se tye aan die begin van hul verhouding te veel aandag aan die fisieke.
Daar moet eerder aandag aan die emosionele gegee word. Al het sy en Ronnie verskille, bly hulle nie kwaad vir mekaar nie.
Ronnie het gesê Anne en hy verskil oor sekere goed, maar hy verwag nie dat sy soos hy moet wees nie.
Hulle vier elke jaar Valentynsdag.
Hul kleinkinders laat hulle nie toe om dit te vergeet nie.
Kyk 'n video hieronder.
Nog 'n skoolkys
Susara en Edward het ook al op skool gekys. In September sal dit 59 jaar gelede wees dat hulle kansel toe gestap het.
Na al die jare is hulle nog steeds lief vir mekaar en daar is wedersydse respek. "Ons verstaan mekaar. Ons is goeie maats," het Susara vertel.
Hulle hou nog hande vas.
Anne en Ronnie Atkins met hulle troufoto wat meer as 51 jaar gelede geneem is. Foto: Eugene Gunning
Susara se advies aan jong paartjies is om mekaar te vertrou. Daar moet geen geheime tussen 'n egpaar wees nie.
Volgens Edward het hy as 12-jarige seun reeds besef dat hy eendag met die 9-jarige Susara gaan trou.
"Ons was nog altyd goeie maatjies," het Edward gesê.
Hy het benadruk dat egpare mekaar nie moet probeer verander nie.
Iets wat hulle opval en onaanvaarbaar is, is dat in vandag se tye jong paartjies mekaar soms in die openbaar verneder.
Hulle vier ook Valentynsdag en Edward gee elk jaar vir Susara 'n geskenkie, sjokolade en 'n kaartjie.
Vanaand (Donderdagaand 14 Februarie) gaan inwoners van Tuiniqua die voete by die jaarlikse Valentynssokkie laat rol. Tokkie Nel sal die musiek verskaf.
Alani Voigt, sentrumhoof, sê die geleentheid word elke jaar goed ondersteun, "Dit is 'n hoogtepunt op die kalender. Daar is minder ooms as tannies, maar dit pla nie die tannies nie. Ouer mense laat hulle nie afsit nie. Die feit dat jy al ouer is, beteken nie jy mag nie pret hê nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'