Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Sowat 90 kinders in die breër George en Eden-distrik se haaslippies, gesplete verhemeltes, gesplete tandvleis asook ander dele soos oortjies, is tussen 2 en 6 Desember vir Smile Week by George-hospitaal geopereer.
Airports Company South Africa (Acsa) ondersteun Smile Week en Brenda Vorster, bestuurder van George-lughawe, was Dinsdag by die hospitaal om die maatskappy te verteenwoordig.
Dr. Saleigh Adams, die plastiese chirurg van die Rooikruis-kinderhospitaal, het die uitreik-inisiatief so ses jaar gelede begin omdat baie pasiënte in die verlede heen en weer moes ry om by die hospitaal in die Kaap te kom. "Hier kan ons nou 20 pasiënte binne twee dae opereer, waar dit maklik tot 10 weke sou neem."
Dr. Adams sê die geval wat vanjaar vir hulle uitstaan, is die van die 11-jarige Tahila Schaafsma-Harris. Sy is sonder 'n oor in 2008 gebore en het 'n rare genetiese siekte wat geïdentifiseer word aan 'n onvolledige oorskulp.
Hy sê vandag is die een kant van haar gesig verlam, wat beteken sy het min of geen gesigsuitdrukking aan haar regterkant nie. Sy het Dinsdag 'n ses uur lange operasie ondergaan om die oorskulp te bou.
Dit is net een van verskeie operasies wat Tahila moet ondergaan, maar sy het hoop dat die operasie 'n sukses gaan wees. 'n Vorige operasie aan haar oor was onsuksesvol na sy 'n infeksie ontwikkel het.
Kyk 'n video hieronder:
Tamira Figeland van Conville is net 10 maande oud en sy het haar eerste rekonstruksie operasie gehad waar haar lip en verhemelte opereer is.
Ma Natasha sê sy kan reeds 'n verskil sien. "Sy eet beter, melk loop nie by haar mondhoekies uit nie en sy bring nie haar kos op nie."
Volgens Natasha kan hulle reeds die week huis toe gaan en moet weer in Februarie gaan vir 'n opvolgbesoek.
Nog 'n kind wat 'n operasie gekry het, is Helmie Rossouw (3) van Riversdal. Hy het sy derde operasie ondergaan en dokters moet nog sy gesplete tandvleis regmaak.
Die span van Smile Week saam met die dokters wat die operasies doen en verteenwoordigers van George-lughawe. Van links is Marga Roets, Anita Weideman, Moira Gertszt, Brenda Vorster, dr. Saleigh Adams, dr. Francois Roodt, dr. Roslyn Lentin, dr. Ben Emmink, Sors Grobbelaar en dr. Zilla North.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'