GEORGE NUUS - Wyle oudpresident Nelson Mandela was self iemand wat baie sterk gevoel het dat mense die hele volkslied ken en sing. Die skrywer (van die berig) het dit jare gelede self beleef.
Hy het die betrokke dag 'n instansie in Johannesburg besoek waar iemand, wat destyds saam met hom in die tronk was vir politieke redes, onder verpleging was. Ek was daar as 'n joernalis. Sy besoek aan die instansie was aanvanklik 'n groot geheim, maar sy teenwoordigheid het soos 'n veldbrand versprei.
Nadat hy die man besoek het, wou die personeel hom baie graag van aangesig tot aangesig sien. Hy het die man op die eerste verdieping besoek en toe met 'n hysbak afgery.
Onder op die grondverdieping het die personeel hom ingewag. Daar was groot opgewondenheid. Die personeel het toe die volkslied gesing. Madiba, waardig soos altyd, het onmiddellik op aandag gaan staan en geluister hoe die personeel die volkslied sing.
Daar was net een probleem: Hulle het net die eerste deel, Nkosi Sikelel' iAfrika gesing en nie Die Stem nie. Madiba het gewag tot hulle klaar gesing het. Toe het hy met hulle gepraat en hulle baie beleefd daarop gewys dat die volkslied nog 'n deel het. As hulle dit nie geken het nie, moes hulle die personeel vra om dit vir hulle te leer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'