GEORGE NUUS - Lees hardop-dag is op Vrydag 1 Februarie regoor die land en ook hier in George gevier waar daar by skole hardop gelees is. Die George-biblioteek het skole, onder andere Dellvillepark Primêr en Sonneblomland-speelskool besoek.
Robert Grootboom, die hoof van Dellvillepark Primêr sê hulle besef elke dag dat as kinders beter lees, sal hulle beter wiskundiges word.
"Ek sê altyd as 'n kind nie kan lees nie gaan hy verdwaal in die dorp, in die land en in die lewe."
Grootboom sê lees is veral belangrik vir kinders wat deur hul grootouers grootgemaak word. Hy sê ongelukkig kan baie van ons oupas en oumas nie lees of skryf nie, en as die leerder kan lees en skryf kan hulle help in die huis. "Of ons dit wil erken of nie, baie van ons bejaardes word ingeloop omdat hulle nie kan lees of skryf nie."
Hy sê hy is dankbaar vir die span van die biblioteek wat die belangrikheid van lees aan die kinders verduidelik het. Volgens Grootboom het hulle genoeg leesboeke by die skool asook 'n leesprogram.
'n Verteenwoordiger van die biblioteek het ook die speelskool, Sonneblomland, in Proteapark besoek. Hier het sowat 50 kleuters met blink ogies en met baie belangstelling gesit en luister. Magdalene Fortuin, die hoof van die speelskool sê lees is baie belangrik veral in die grondslagfase waar kinders lees om prentjies met woorde te vereenselwig.
"As daar hardop vir die kind gelees word en hy sit 'n naam by 'n prentjie, sal hy dit weer kan uitken."
Die biblioteek juffrou het in Xhosa vir die leerders gelees.
Roger Jacobs van die WKOD se departement leerderondersteuning, sê almal het die verantwoordelikheid om die belangrikheid van lees en hardop lees by kinders tuis te bring.
"Een van die belangrikste dinge wat 'n ouer of onderwyser kan doen is om 'n kind se leesvaardighede te help ontwikkel. Dit help ook om 'n sterk taal grondslag te lê." Jacobs sê dit kweek kritiese denkwyse en nuuskierigheid.
Beaufort-Wes Primêr het vir Spiderman gehad om vir die leerders voor te lees.
Ook Hoërskool George het bygedra tot Lees hardop-dag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'