GEORGE NUUS - September is kinderkanker-bewusmakingsmaand.
Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) beklemtoon gedurende die maand die belangrikheid daarvan om die publiek bewus te maak van kinderkankers.
Mite 1: Kankeroorwinnaars is mense wat 'n siekte soos kanker het en dit kan oordra aan ander en is 'n gesondheids -risiko vir ander.
Soms hou kulturele oortuigings vol dat kanker verband hou met bose geeste en dat mense met kanker "getoor" is.
Feit 1: Kinderkanker is nie aansteeklik nie: Kinderkanker word nie oorgedra deur 'n virus nie en dit is nie aansteeklik nie. Dit is veilig om kontak te hê met mense wat kanker het.
Mite 2: Alle kankeroorwinnaars is geneties minderwaardig en ondervind probleme met vrugbaarheid. Hulle kan nooit kinders hê nie.
Feit 2: Vir die meeste kankeroorwinnaars is dit onwaar. Die tipe kanker en die behandeling daarvan bepaal die uitdagings van vrugbaarheid.
Mite 3: Kankeroorwinnaars leef nie lank nie.
Feit 3: Twee uit drie oorwinnaars van kinderkanker het 'n groter risiko vir laat effekte van die siekte en sekondêre kankers, maar dit word nie gekoppel aan enige lewensverwagting nie.
Mite 4: Oorwinnaars van kinderkanker word volkome genees en hoef nooit weer mediese ondersoeke te ondergaan nie.
Feit 4: Voortgesette opvolg mediese sorg is belangrik vir kankeroorwinnaars. Waaksaamheid en gereelde monitering is van kritiese belang.
Mite 5: Kankeroorwinnaars van kinderkanker moet weet dat hul toekoms misrabel, hartseer en vol pyn en ellende sal wees. Kinders wat kanker gehad het, sal nooit weer 'n normale lewe kan lei nie.
Feit 5: Daar is beslis lewe, gesondheid en 'n toekoms vir iemand wat kanker gehad het. Die meeste kankeroorwinnaars is in staat om terug te keer na hul skool. Hulle kan voortgaan met hul gereelde aktiwiteite en weer integreer met hul gesinslede, vriende en gemeenskapslede.
Mite 6: Kankeroorwinnaars vaar swak op skool en in die werksplek.
Feit 6: Dit is nie waar vir almal nie. Daar is sommige kankeroorwinnaars wat kognitiewe probleme en leergestremdheid kan ervaar. Die meeste kankeroorwinnaars doen baie goed op skool en blink uit in die beroepswêreld.
Mite 7: Dit is beter as kinders en adolessente nie ingelig word dat hulle kanker het nie.
Feit 7: Kankeroorwinnaars moet ingelig word oor hulle siekte. Hulle moet verstaan en bemagtig voel om in beheer van hul eie gesondheid en welsyn te wees.
Mite 8: Kinders wat kanker gehad het, sal vir altyd met die stigma van die siekte moet saamleef. Daar sal teen hulle gediskrimineer word in die gemeenskap waarin hulle leef, in hulle huwelike en in die werksplek.
Feit 8: In die meeste lande word kankeroorwinaars as helde beskou en is hulle lewende bewyse dat kanker wel genees kan word. In lande waar daar nog steeds 'n stigma aan kankeroorwinaars kleef, moet die mense wat kanker oorwin het en hulle ondersteuners dit aanspreek, uitdaag en uitroei.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'