WES-KAAP NUUS - Die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKB) vier Nasionale Bloedskenkermaand gedurende Junie en Wêreldbloedskenkersdag op môre, 14 Junie.
Gedurende die maand strewe die WKB daarna om mense bewus te maak van die belangrikheid van bloedskenking. Die tema vir hierdie jaar se Wêreldbloedskenkersdag is 'Veilige Bloed vir Almal'.
"Die tema beklemtoon die feit dat veilige bloed nie net regoor die wêreld benodig word nie, maar ook hier in die Wes-Kaap," sê Michelle Vermeulen, skakelbeampte vir die WKB.
"Ons het nagenoeg 6 miljoen mense wat in die Wes-Kaap woon en omtrent 75% van dié populasie sal bloed of bloedprodukte in hul leeftyd benodig, maar slegs 1,5% is bloedskenkers, "sê Vermeulen.
Die wintermaande is 'n moeilike tydperk vir bloedinsameling en ons wil daarom 'n beroep doen op almal wat aan die basiese skenkingsvereistes voldoen om asseblief bloed te skenk.
Die WKB sê as jy tussen die ouderdom van 16 en 75 is, meer as 50 kg weeg, gesond is op die dag van skenking en 'n veilige seksuele leefstyl handhaaf, behoort jy te kan bloed skenk.
Besoek gerus www.wcbs.org.za, skakel 021 507 6300 of SMS 'Bloed' na 33507 (R1.50 per SMS) om jou naaste bloedskenkkliniek te vind.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'