GEORGE NUUS - 'n Tweejaarlikse geldinsameling vir die George People's Dispensary for Sick Animals (PDSA), die Paws in Need Run, word op Sondag 2 Desember deur Bikers vir Liefdadigheid onder leiding van Anton en Leigh-Anne Meyer gedoen.
Die deelnemers vertrek om 11:00 in 'n konfooi van die Checkers-parkeerarea by Paddagat (St George's Square) onder leiding van George-verkeersdienste. Vandaar volg die roete na die Garden Route Mall, regs op die N2 en weer regs by die Thembalethu-afrit in Sandkraalwegop na die PDSA. Koffie en pannekoek sal daar te koop wees.
Enige persoon met enige voertuig word genooi. Deelnemers word gevra om sakke hondekos, blikkieskos, komberse of 'n speelding te bring. Alle donasies gaan direk aan die PDSA-bestuur oorhandig word. Enige kontantdonasies kan direk aan hulle gedoen word.
Landy World onder leiding van Craig Anderson is 'n medeborg van vanjaar se geleentheid.
"Ons passie vir diere spreek vanself. Hulle kan nie vir ons sê as hulle seer of honger het nie - al wat ons kan doen, is om die lewe vir hulle ook gemaklik te maak. Persone wat wel al in 'n behoeftige dier se oë gekyk het, sal dit verstaan," sê Anton.
Mense wat nie die geleentheid kan bywoon nie, maar graag iets vir die diere wil gee, kan dit afgee by Gallie Sweis of Landy World.
Vir meer inligting, bel Anton by 083 382 4510 of Leigh-Anne by 082 417 6861.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'