GEORGE NUUS - Oud-Kwagga Genay Viljoen (18) van George is deel van die eindronde van Top Model Suid-Afrika wat op 27 Februarie in Pretoria by Time Square, Sun Arena, aangewys word.
Viljoen vertel sy moes aanlyn inskryf met 'n foto, waarna sy as semi-finalis gekies is. "Ek moes 'n werksessie in Pretoria bywoon. Ons was altesaam 180 modelle. Die finaliste is daar gekies en ons is per e-pos laat weet."
Sy is baie opgewonde en vertel dat sowat 4 000 die geleentheid gaan bywoon. Volgens haar is daar verskillende kategorieë en sy is in 'Beautiful Fresh Face'. "Die kompetisie is 'n goeie platform om jouself bekend te maak met agentskappe. Modelwerk was van kleins af 'n passie. Ek is lief vir skoonheid, grimering en mode."
Sy het ook al deelgeneem aan Mej. Skoukoningin in 2016, 1ste prinses, en het Mej. Fotografie gewen.
Die La Belle modelagentskap in George, is waar sy die geleentheid gekry het om vir Pine Lake Marine Lodge in Sedgefield op minibusse en advertensies te verskyn. Sy was ook n model vir Moroccanoil Internasionaal.
Die wenner van Top Model SA gaan weer in Londen by Top Model Worldwide deelneem. Die wenner kan 'n kontrak by 'n groot modelagentskap kry asook die geleentheid om by die Suid-Afrikaanse modeweek op die loopplank te verskyn.
Om 'n finalis te wees beskryf ek in een woord "Meraki" dis ’n Griekse woord. "Om iets met siel, kreatiwiteit of liefde te doen, om iets van jouself in jou werk te plaas."
Vir Viljoen gaan dit nie net daaroor om 'n model te wees nie, maar 'n rolmodel. Sy sê enigeen kan vandag 'n model wees, maar om 'n stukkie motivering in iemand agter te laat is wel 'n tevredenheid.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'