GEORGE NUUS - Salt & Copper, die splinternuwe restaurant in Hartenbos, ontvang die Suid-Kaap Fynproewersgilde en hulle gaste op Donderdag 6 Februarie vir die eerste demonstrasie van die gildejaar. Dit begin om 08:30 vir 09:00.
Antolique Heunis, die sjef by hierdie geleentheid, was ‘n Institute of Culinary Arts-student wat haar uitgebreide praktiese opleiding by onder andere sjef Lucas Carstens (Makaron-restaurant, Majeka House) en sjef Stella (De Werf-restaurant, Boschendal) ontvang het.
Tans is sy die sjef by die gesellige Salt & Copper-restaurant en sy bederf gaste met geurige geregte wat op ‘n aanskoulike wyse voorgesit word.
Dié romantiese Valentynsdemonstrasie is saamgestel uit vyf gange. Die eerste gang bestaan uit aspersies bedien met geroosterde uieroom en pietersieliepuree. Dit word gevolg deur foreltartare met tamatietee. Die derde gang is volstruisfillet bedien met beet (drie verrassende variasies).
Om die palet voor te berei vir die nagereg, word waatlemoen-roosmarynsorbet bedien.
‘n Aarbei-en-lemmetjienagereg met madeleines sluit die demonstrasie volmaak af. Daar sal wyn te proe aangebied word wat hierdie geregte sal komplementeer. Voorwaar ‘n spyskaart om jou Valentyn se hart totaal te laat vermuwe!
As jy vanjaar jou Valentyn wil beïndruk, moet hierdie demonstrasie nie misgeloop word nie. Gaste is hartlik welkom. Kontak Elaine Louw (083 263 5417) om jou plek te bespreek. ‘n Kaartjie kos R170.
Alle belangstellendes word genooi om by die gilde aan te sluit. Hulle motto: Niemand hier is kenners nie. Hier leer almal gesellig saam.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'