GEORGE NUUS - Ernest Lamprecht, 'n lid van die Berg en Dal Voetslaanklub, het 'n paar van die jonger klublede verstom toe hy, net duskant sy 81ste verjaarsdag, die George- en Cradockpieke in een dag uitgeklim het.
Lamprecht, wat al duisende kilometers in sy lewe gestap het, het drie klubmaats uitgedaag om die klim op Saterdag 14 Oktober saam met hom aan te pak.
Cradockpiek is 1 578 m bo seevlak en die hoogste piek in die Outeniquaberge.
Georgepiek is 1 337 m. Die twee lê op dieselfde roete en verg heelwat klouterwerk teen steil rotse uit.
"Ek was al in totaal agt keer op die twee pieke, maar dit is die tweede keer dat ek beide op een dag doen," sê Lamprecht.
Hy het dit verlede jaar ook gedoen, toe hy 79 was, en wou dit graag weer op 80 doen, vir die laaste keer.
Die stap was ter nagedagtenis aan sy vrou, Johansa wat drie jaar gelede weens kanker oorlede is.
"Die klim was vanjaar bietjie moeiliker as verlede jaar, want die roete was nat en glad. Dit was ook toe die eerste keer in vyf jaar dat ek val, maar dit was gelukkig niks ernstig nie."
Die onstuitbare stapper, wat op 22 November 81 word, daag homself voortdurend uit.
Hy het van die einde van 2015 tot in verlede jaar die Montagupas 30 keer op- en afgestap.
"Ons was 'n groep wat vyfuur soggens begin stap het, maar nou wil ek nie meer so vroeg opstaan nie."
Lamprecht doen staptogte reeds sedert sy jeug en het jare gelede in Gauteng begin waar hy bykans al die groot wandelpaaie voltooi het.
Hy het ook vir jare gholf en tennis gespeel.
"Ek het altyd gehoop om 'n kolhou te speel, en toe kry ek een op die George-baan se sesde putjie so 'n paar jaar terug."
Hoewel Johansa nie saam met hom op staptogte gegaan het nie, het hulle die gholf en tennis saam geniet. "Sy was 'n beter gholfspeler as ek," gesels hy.
Hy het vyf jaar gelede by Berg en Dal aangesluit en dien tans op die bestuur.
Hulle stap Dinsdae en Saterdae en tussenin reël hulle addisionele stappe en ook wegstappe oor naweke.
Lamprecht het onlangs ook 'n stapgroep vir inwoners van Kraaibosch Village begin waar hy woon.
"Ek wil graag die oumense hier aan die gang hou," sê hy goedig.
Hy mik om jaarliks 2 000 km af te lê ten spyte van 'n ortopeed se raad aan hom drie jaar gelede om hierdie voorliefde van hom te laat staan.
"Sedert die dokter met my gepraat het, het ek weer 5 000 km gestap.
"Ek het al so bietjie verwering op my knieë, maar Saterdag het ek geen probleme ervaar nie. Dis maar genade van Bo. Ek gee die Here die eer.
"Soos ek ouer word wil ek kyk hoe lank ek fiks kan bly."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'