Die kwaliteithandwerk wat uit hierdie werkswinkels te voorskyn kom, is bekend en getuig van die toewyding waarmee daar gewerk word. Vervaardiging geskied deur 48 permanente inwoners wat in ‘n koshuis op die perseel gehuisves word, en 92 dagwerkers wat soggens hul opwagting maak in die sentrum se drie bussies.
As daar meer vervoer beskikbaar was, sou nog dagwerkers ingeneem kon word. Daar is ‘n waglys van 24 mense wat gretig is om by Emmaüs in te val, sê Elsabé Badenhorst, die sentrumhoof. Twaalf werkers stap uit Thembalethu om elke dag op hulle pos te wees.
Emmaüs hoop egter dat die dagwerkers nie meer van die bussies afhanklik gaan wees wanneer die nuwe openbare vervoerstelsel in George geloods word nie. Die verwagting is dat daar spesiaal vir persone met gestremdhede voorsiening gemaak sal word.
Die sentrum ontvang subsidie van die departement maatskaplike dienste, maar bykomende fondsinsameling moet gedoen word om die suksesvolle bedryf te verseker. Meer dagwerkers as waarvoor die sentrum subsidie ontvang, word geakkommodeer en volgens Elsabé is gestremde versorging baie duur en intensief.
“Die persone is nie altyd emosioneel stabiel nie en werkers wat by Emmaüs opgeneem word, kan nie in die ope mark meeding nie. Hulle kan egter optimaal funksioneer binne ‘n opset soos hierdie met 'n bepaalde roetine en dissipline. Die werkers bevind hulle hier ook in 'n omgewing waar hulle hulself tuis voel en sonder meer aanvaar word."
Van die werkers kom uit power huislike omstandighede en die middagete wat by Emmaüs voorgesit word, is in sommige gevalle die enigste kos wat hulle kry.
'n Toenemende aantal persone wat by Emmaüs inskakel, ly aan fetale alkoholsindroom wat veroorsaak word weens drankgebruik deur die ma gedurende swangerskap.
"Sulke persone is gewoonlik meer aggressief en rusteloos. Baie verlaat skool op 16 jaar of jonger omdat hulle 'n sogenaamde plafon van ontwikkeling in die 'normale' skoolopset bereik. Omdat Emmaüs slegs jongmense van 18-jarige ouderdom af toelaat, beland sulke kinders weens hul sosio-ekonomiese omstandighede baie keer in 'n afwaartse spiraal waar hulle sagte teikens is van kriminele elemente wat hulle misbruik."
Elsabé sê hulle probeer bewusmaking skep onder die publiek oor hierdie mense se lewensomstandighede en dat Emmaüs altyd streef daarna om soveel werkers moontlik onder hulle vlerk te neem sodat hulle in veiligheid kan werk en lewe. Sy nooi Georgiete om by Emmaüs 'n draai te maak en te kom kyk hoe hulle 'n bydrae kan lewer.
"Ons het mense nodig wat hulle tyd en vaardigheid met die werkers kan deel, nie noodwendig net geld nie."
Loer in by die sentrum in Memoriamstraat (oorkant die George-nagskuiling) of bel Elsabé by 044 873 4196 om uit te vind hoe jy kan bydra tot Emmaüs se visie - om die volwasse gestremde optimale beskerming en versorging te bied.
_576483598.jpg)
Van die werkers by Emmaüs en die hoof van die vroulike werkswinkel, Andelise McGear by van die kleurvolle artikels wat hulle skep. Van links is Natasha O'Kelly, Candice Orr, Sarie Maritz, Andelise en Madelein Olivier.
ARTIKEL EN FOTO: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'We bring you the latest George | Garden Route news'