LEEFSTYLNUUS - Depressie is iets wat skielik vir meer en meer vir ons ‘n werklikheid geword het. Waar dit 20 jaar net oor gefluister is, ken ons almal nou iemand wat depressief is. Daar is toenemend meer en meer mense wat weet hoe dit voel om met depressie saam te leef.
Sedert 2020, het statistiek oof die ervaring van depressie in die samelewing verdubbel.
Elizabeth Wurtzel skryf in ‘n artikel: “That's the thing about depression: A human being can survive almost anything, as long as one sees the end in sight. But depression is so insidious, and it compounds daily, that it's impossible to ever see the end.”
Buiten die normale druk en spanning van die alledaagse lewe, het depressie nog ‘n spanmaat gekry wat hierdie opponent sterker maak, naamlik Covid-19 en sy dikwels wrede uiteinde.
Volgens Mia Bruns, 'n dosent aan Caritas Care, 'n sentrum vir pastorale narratiewe terapie op Mosselbaai, het die samelewing geen raamwerk om te beskryf wat ons ervaar tydens hierdie epidemie nie.
"Ons het nie meer ‘n duidelike prentjie van wat oor vier maande op ons wag nie. Om depressie narratief te beskryf, kan ons dan sê dat depressie ‘n paar taktieke het. Dit steel ons visie en hoop vir die toekoms. Dit laat ons magteloos voel, daarom sluk dit ons dryfkrag en energie in. Ons wonder - wat is fout met my? Is ek die enigste wat hierdie dinge ervaar? Op hierdie manier begin ons eensaam in ons bepaalde situasie voel," verduidelik Bruns.
Volgens die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders V (DSM-V) moet vyf tot nege simptome van die totale 12 kenmerkend aan depressie, gedurende 'n tydperk van twee weke heers
Hieronder is lusteloosheid, slaap- en eetveranderinge, lae bui, angstigheid, gevoelens van hopeloosheid en selfdoodgedagtes.
"Om in teenstand teen depressie te begin ingaan, is dit nodig om te kyk hoe dit in jou lewe figureer. Hoe kan jy dit beskryf? Is dit ‘n kombers, ‘n monster, 'n berg of 'n wolk? Is daar ‘n naam wat dit akkuraat beskryf? Begin dan om met iemand wat jou liefhet te gesels oor die antwoorde op hierdie vrae."
Volgens Bruns is dit belangrik, sodra die feite bekyk is, om te besef dat daar wel hoop is en dat depressie se invloed om jou lewe verminder kan word.
"Depressielyers besef dat hulle ook taktieke het. Die belangrikste is, om net gesprekke met mekaar oor depressie te begin hê."
* Caritas Care bied 'n gratis diens aan die gemeenskap. Kontak Caritas (WhatsApp - 071 473 0507) of die skrywer van hierdie artikel, Mia Bruns (WhatsApp - 082 078 1696).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'