GEORGE NUUS - Die tema van Dames Aktueel se eerste vergadering van die jaar in Januarie was 'Dis 'n perd van 'n ander kleur'.
Mareli Olen, fisioterapeut by Carpe Diem, het gaste ingelig oor die ongelooflike voordele wat hippoterapie, terapie met die hulp van perde, vir kinders met kopbeserings, emosionele probleme, outisme, liggaamlike gestremdheid en nog vele meer probleme inhou.
Om selfs net oor die perd te lê of die dier te streel, het 'n besonderse uitwerking op 'n kind, maar die beweging van die perd het 'n positiewe uitwerking op die hele liggaam en psige.
Elke perd en kind bou 'n sterk verhouding. As die verkeerde maatjie op die perd gesit word, weier die perd samewerking.
Lida Leggatt van Norga-kwekery het al oor 'n miljoen plantjies geplant en het 'n verstommende kennis oor die medisinale waarde van gewone bekende plante. Haar dogter is op twee jaar met kanker gediagnoseer en sy is vandag heeltemal genees en 19 jaar oud. Lida meen ook goeie medisyne is jou positiewe houding teenoor die lewe.
'n Plaaslike veteraan-pryswennersportvrou, Annatjie Botes het die lede vertel dat oefen 'n voorreg is en dat stap jou lekkerste oefening is.
Volgende vergadering
Dames Aktueel se maandvergadering word gehou op Dinsdag 26 Februarie om 19:00 by Emmaüs.
Die tema is 'Wat die hart van vol is, loop die mond van oor'. Die sprekers is Natania van Heerden, bekende aktrise, stemkunstenaar en skrywer, en ook Anton Treurnicht, akteur, skrywer en radio-omroeper.
Besoekers is welkom teen R50. Vir meer inligting, kontak Magdaleen Smook by 044 873 6568 / 074 9771986 of Louie Meyer by 044 874 6523 / 084 525 2130.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'