GEORGE NUUS - Laerskool New Dawn Park het Donderdag hul anti-boelie demonstrasie buite die skool gehou. Ruth Miller, die waarnemende hoof, sê: "Ons skool het besluit op hierdie protesaksie om ook die gemeenskap daarvan bewus te maak."
Miller sê die ouer is primêr verantwoordelik vir die vorming en opvoeding van hul kinders en die skool slegs 'n verlengstuk.
"Waardes begin by die huis. Tans ontbreek waardes en dis tyd dat ons moet opstaan en eienaarskap neem van ons gemeenskappe."
Die skool is op sosiale media gekritiseer oor leerders gedurende skoolure buite staan, waarop Miller gesê het dit was leerders wat gekies het om vir hul regte op te staan. Volgens haar was die ander steeds in die klas waar lesse voortgegaan het en daar toesig gehou is.
Die protesaksie is in lyn met die WKOD se anti-boeliemaand wat Augustus gevier word. Sy sê skole is versoek om programme aan te bied ter bewusmaking en voorkoming daarvan. "Sommige leerders dink dis reg om ander leerders se regte te skend," sê Miller.
Volgens haar is daar baie voorvalle van ontwrigting van onderrig, aanranding, afknou, diefstal, verbale mishandeling/krutaal en disrespek teenoor opvoeders. Sy sê die gedrag vind daagliks plaas.
Ruth Miller saam met leerders en onderwysers wat deel was van Donderdag se anti-boelie demonstrasie.
Die skool se opvoeders, tesame met die leerders wat wil leer, sê Miller, het besluit op protesaksie om te wys dat hulle genoeg gehad het. "Hulp word verleen en aangebied en nog steeds voel sommige leerders hulle sal doen wat hulle wil.
"Die boodskap is duidelik, Laerskool New Dawn Park weier dat boelies hul skool verder ontwrig."
Die skool sê hulle sal weekliks gedurende die maand van Augustus programme aanbied.
Leerders het hul eie oulike plakkate gemaak.
Genoeg is genoeg sê hulle.
Hulle vra dat boelie moet ophou. Foto's: Salette Cloete
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'