WESTELIKE PROVINSIE NUUS - Die Westelike Provinsie Bloedoortappings-diens (WPBOD) het alles ingespan om 'n tekort aan bloed tydens die winter te verhoed, maar ondanks alle pogings lyk dit of die koue weer bloedskenkers daarvan weerhou om te skenk.
Wintermaande is tradisioneel 'n moeilike tyd vir bloedinsameling, weens die feit dat baie gereelde skenkers aan verkoues of griep ly en daarom nie kan skenk nie. Bloedskenkklinieke kan ook nie by skole en tersiêre instellings gehou word tydens die lang winter-skoolvakansie nie . Dit plaas WPBOD onder geweldige druk om genoeg bloed in te samel.
"WPBOD moet ten alle tye 'n bloedvoorraad van vyf dae handhaaf om aan die behoeftes van pasiënte, wat op bloedoortappings staatmaak vir hul oorlewing, te voldoen. Ons het tans egter net een dag se voorraad groep O-bloed beskikbaar in die Wes-Kaap," sê Michelle Vermeulen, korporatiewe skakelbeampte by WPBOD.
WPBOD doen daarom 'n beroep op gereelde en potensiële skenkers wat aan die minimum vereistes voldoen om hul naaste bloedskenkkliniek te besoek en bloed te skenk.
Persone ouer as 16 jaar, wat meer as 50 kg weeg en 'n gesonde, veilige leefwyse handhaaf, kan bloed skenk. Skenkers moet nie nalaat om iets binne drie tot vier ure te eet voordat hulle bloed skenk nie.
Terwyl skenkings van alle bloedgroepe belangrik is, doen die diens 'n spesiale beroep op bloedgroepe O en B om bloed te skenk.
Hierdie groepe is geneig om meer kwesbaar te wees tydens tekorte.
Vir verdere inligting, SMS "Bloed" na 33507 en WPBOD skakel jou terug met inligting oor jou naaste bloedskenk-kliniek.
Skenkers en / of voornemende skenkers kan die diens ook kontak by 021 507 6300, e-pos by info@wpbts.org.za of die webblad besoek by www.wpblood.org.za.
Vir inligting oor die streek se bloedvoorraad, besoek gerus ook Facebook (WP Blood), Twitter (@WPBlood) en/of Instagram (@WP Blood) of laai die WP Blood-selfoontoepassing af (verniet beskikbaar in beide iOS- en Android-winkels).
Doen iets besonders en skenk bloed!
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'