GEORGE NUUS - Georgiet dr. Elise Calitz (78) het baie stories om te vertel. Sy is 'n afgetrede maatskaplike werker en lektor, en is 'n ywerige reisiger wat voetspore agtergelaat het in talle lande - van die VSA, Jordanië, Rusland, Nieu-Seeland en China tot deur die hele Europa.
Net so graag soos wat sy reis, skryf sy ook. Einde verlede jaar het sy haar tweede boek, Nagboek die lig laat sien. Dis 'n bundel van 29 kortverhale oor wyd uiteenlopende onderwerpe oor menslike ervarings, met een ding in gemeen - elke storie speel af in die nag, of begin in die donker, of eindig in die donker.
Daar is baie wat Calitz se verbeelding op loop laat gaan vir 'n goeie storie. Toe sy verlede jaar deur siekte meestal tot die huis beperk was, het sy die tyd gebruik om stories wat reeds in die laai gelê het bietjie af te stof en 'n klomp nuwes neer te pen. "Ek vervleg baie keer fiksie met die werklikheid. Die verhale is eg en ek glo die lesers sal hulle kan inleef daarin."
Haar mensekennis en reiservarings is 'n goeie bron van idees. "Ek kry net hierdie temas in my gedagtes en wanneer ek begin skryf, vloei dit net."
Van die verhale speel af op verskillende plekke in die wêreld waar sy al was, soos Nagreis in Parys wat haar eie nagreis in dié wêreldstad verwoord en Volmaan oor Wadi Rum, 'n verbeeldingsvlug na aanleiding van haar en 'n vriendin se besoek aan Jordanië. Daar is swaarder temas soos in Nagskrik, 'n storie van 'n drankverslaafde vrou wie se man haar getrou bystaan, en ligte verbeeldingsvlugte soos 'n lawwe droom wat in Nagoefening beskryf word.
'n Plaaslike verhaal, Straataasvoël, is geskryf na aanleiding van gesprekke wat sy soggens vroeg met sakkrappers in Heatherpark se strate aangeknoop het. Die verhale het dikwels 'n verrassende einde. Calitz het haar eerste boek, Op die Camino - Op 'n Staptog in Spanje, in 2014 gepubliseer om haar wedervaringe as stapper op die roete vas te vang. Sy het drie keer die Camino gestap. Sy is ook besig met 'n reisboek wat in die nabye toekoms sal verskyn. Calitz is nog lank nie klaar gereis nie.
"As jy aftree, begin die lewe eers. Ek het 'n vol beroepslewe gehad en kon partykeer amper nie koerantlees in my tyd inpas nie, maar toe ek aftree het ek geweet my tyd het gekom. Ek is bevoorreg om op 55 te kon aftree, want ek kon 'n hele tweede lewe inpas."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'