GEORGE NUUS - Om die skoene van 'n man vol te staan, sit nie in enigeen se broek nie, maar Gustav Appels (19) van Parkdene, laat dit maklik lyk.
Gustav het begin werk toe hy 17 geword het, 'n besluit wat vir hom 'n natuurlike een was weens sy omstandighede. In Desember 2020 het hy begin uitkyk vir werk en op sosiale media op 'n groep afgekom wat grafte toegooi.
"Hulle het my gekontak en ek het onmiddellik ja gesê. Dit was harde werk en my hande en lyf was baie seer, maar ek het geweet hoekom ek dit doen," vertel Gustav.
George Herald het al voorheen oor Gustav se sopkombuis geskryf waardeur hy sy gemeenskap help, maar hy sal nou in sy matriekjaar moet prioritiseer tussen skoolwerk, die sopkombuis en sy werk. Hy vertel sy ouma, asook Gregory Noble, is altyd daar vir hom as hy voel dinge raak te veel.
Hy verstaan ander sien hom as 'n voorbeeld en motivering om beter te doen en hy sal help waar hy kan.
Gustav sê hy het elke sent gespaar en dit eers in Januarie gebruik vir wat hy nodig gehad het. "Ek het R220 verdien vir elke dag se werk, en daardie geld wou ek nie gebruik nie. Ek het geweet hoekom ek werk en spaar."
Hy vertel sy ma was nog altyd sonder werk, so hy het geweet hy sal op 'n stadium self moet gaan werk vir wat hy wil hê, asook om brood op die tafel te sit en krag te koop.
"Toe dinge begin swaar gaan het ek opgestaan en my ouma gehelp met die huis en self my eie sopkombuis begin met die geld wat ek by Burial Assistant Service gekry het. Was dit nie vir hulle nie, sou ek nie kon doen wat my hart begeer nie. Hulle help baie mense in die moeilike tyd."
Hy het ook vinnig bekend geraak in sy gemeenskap en mense nader hom vir hulp en raad.
Hy sê om verantwoordelikheid te neem van sy toekoms was nie maklik nie, omdat hy ook wil kuier en uitgaan en jonk wees, maar sy omstandighede het hom geforseer om buite die boks te dink.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'