GEORGE NUUS - Oom Jakkie van der Colff (77) het alreeds naastenby 2 000 km afgelê vandat hy 17 Augustus by die Voortrekkermonument in Pretoria weggespring het. Sy eindbestemming is die Taalmonument in die Paarl DV 21 September met 'n totale afstand van +/- 2 693km deur 5 provinsies.
George en Blanco-Niqua Voortrekkers het hom in 'n kokende George verwelkom op Sondag 8 September by die NG Moedergemeente waar ds. Hennie Bekker die groep gelei het in gebed vir dankbaarheid en seënwense.
"Hierdie projek is daarop gemik om die Voortrekkers wyer bekend te stel sodat kinders en ouers en ander betrokke kan raak. Gaan lees gerus wat Die Voortrekkers werklik doen. Dan sal jy jaloers word omdat jy nie betrokke is nie. Onthou hulle het ouers en ander grootmense ook nodig om in hierdie mooi land van ons Koers te kan Hou," sê oom Jakkie.
Voortrekkers van die twee kommando's in George, die George en die Blanco-niqua kommando's, het die geleentheid bygewoon.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'