Tragies! Duisende voëls dood, talle ander pikswart en taai van die olie en Nieu-Seeland se mooiste kuslyn is besoedel.
Dan is daar nog die 80-plus kratte wat van die skip afgeval het toe dit in onstuimige see gekantel het. Dit wil lyk of die gewone ‘summer holiday’ dalk nie hierdie jaar vir ons in die Bay of Plenty gaan realiseer nie.
Die vragskip (Rena) het in die vroeë oggendure van Woensdag, 5 Oktober teen ‘n rif sowat 20 km van die kuslyn tussen Mount Maunganui en Papamoa gestrand.
Die Filippynse skeepskaptein en sy tweede in bevel het reeds in die hof verskyn en die Griekse eienaar van die boot het ‘n video-opname aan die land gestuur waarin hy om verskoning vra vir die ongeluk.
"Sorry, not good enough," sê die plaaslike burgemeester. Die man moet maar self tot hier kom en die impak van die besoedeling gade slaan - onwaarskynlik dat dit sal gebeur, maar ek stem nietemin saam. Die kaptein en sy bemanning kan maar tot onbepaalde gemeenskapsdiens gevonnis word en help opruim totdat alles skoon is - dit kan dalk ‘n rukkie neem - ook onwaarskynlik dat dit sal realiseer.
Ongelukkig is die meeste van die bemanning reeds teruggepos Filippyne toe want hulle vrees glo vir hulle veiligheid, foeitog.
Die skeepsmaatskappy kan wat my betref ook maar opdok sodat die sowat $12 miljoen wat die opruiming kan beloop, nie uit die belastingbetaler se sak kom nie. Dit is darem meer waarskynlik, want na samesprekinge met die minister van Vervoer, Steven Joyce, het die Mediterreense skeepsmaatskappy ingestem om ‘n finansiële bydrae te maak - al reken hulle hulle is nie wetlik verplig om dit te doen nie.
Kyk, ongelukke gebeur, moet my nie verkeerd verstaan nie, maar dan vat jy nie die hasepad nie, jy help regmaak sodat ander nie vir jou onbesonnenheid opdok nie.
Ek is moeilik, want die vragskip het meer as 1300 ton olie aan boord en sover kon net ‘n fraksie daarvan veilig afgelaai word. Hierdie proses gaan voort, maar met gure weer en ‘n skip wat skuins in die water lê is dit nie maklik nie. Dan is daar ook meer as ‘n 1000 kratte - grotes.
Die meeste strande langs die Bay of Plenty-kus bly gesluit en mense word gewaarsku om liefs weg te bly van vis en skulpvis uit hierdie omgewing.
Op ‘n positiewer noot, ek haal my hoed af vir die Kiewiete. Na die Pike River mynontploffing waarin talle dood is en die Christchurch aardbewings, waarin nog meer dood is, en die oliebesoedeling, tel hulle hulle koppe op en sit skouer aan die wiel. Meer as 5 500 vrywilligers het reeds aangemeld om die olie te help opruim. ‘n Praktiese, ‘down to earth’ nasie wat doen wat hulle hand vind om te doen. Soos die Kiewiete altyd sê as iemand iets goed doen: ‘Good on you, mate’.

Die weermag, polisie en vrywilligers is betrokke by die opruimingsaksie aan die Bay of Plenty kuslyn.