GEORGE NUUS - Die Pacaltsdorp Tradisionele Khoisanraad wil die bestuur van Pacaltsdorp teruggeplaas hê in die hande van Pacaltsdorpers sodat hulle self oor belangrike sake soos ontwikkelings kan besluit, onafhanklik van die George-munisipaliteit.
Verskeie vergaderings is al met die munisipaliteit gehou om die kwessie te bespreek.
In 'n brief wat die Khoisanraad vroeër vandeesmaand aan die munisipaliteit oorhandig het, dreig hulle met "drastiese maatreëls, insluitend wetlike stappe" indien die munisipaliteit nie stappe neem om selfbestuur te bewerkstellig nie.
Volgens Stanley Laminie, senior leier van die Khoisanraad, is dit hulle begeerte om hul erfenis en kultuur op hierdie manier te laat voortleef en om self besluite te neem oor wat in hul dorp gebeur.
"Ons wil nie dat ons Sherlaine-hotel gesloop word weens die voorgenome winkelsentrum nie en ons is gekant teen Chinese sakemanne wat in ons midde ontwikkel. Behuisingsontwikkelings wat bo die finansiële vermoë van ons mense is, soos reeds deur die stadsraad goedgekeur, is ook nie welkom nie."
Wat dienste betref, sal dienste-ooreenkomste met die munisipaliteit gesluit word sodat dit steeds voortgaan soos voor Pacaltsdorp se samesmelting met George in 1995. "Sulke ooreenkomste is reeds by 'n aantal ander munisipaliteite geïmplementeer waar klein dorpies aan bruin inwoners teruggegee is, soos Zoar en Friemersheim."
Adv. Gert van Niekerk van die Vryfheidsfront Plus, wat die inwoners van die Moeggeploeg informele nedersetting verlede jaar in 'n grondkwessie teen die George-munisipaliteit verteenwoordig het, sê die Khoisanraad het moontlik 'n punt beet.
"Terwyl ek die saak van Moeggeploeg hanteer het, het ek uitgevind dat van die erwe by die aktekantoor steeds op die voormalige munisipaliteit van Pacaltsdorp se naam geregistreer is. George-munisipaliteit het dus streng gesproke nie jurisdiksie oor daardie erwe nie. Ek het 'n vermoede dat dit met baie ander erwe ook die geval is.
"Volgens die reg dra die titelakte van 'n eiendom die swaarste gewig wanneer oor besitreg besluit word. Die regulasie ingevolge waarvan Pacaltsdorp met George geamalgameer is, dra dus minder gewig as die titelakte. Verder is die grond in Pacaltsdorp deur die regering voor 1994 spesifiek vir bruinmense gereserveer. 'n Voorbeeld van sulke grond is groot dele van die Richtersveld wat wettiglik as Namagrond aanvaar is."
Die geliefde Gwaiingriviermond-gebied is volgens Blanch Benjamin, 'n lid van die Gwaiingmond-aksiekomitee, ook amptelik in 1957 in 'n hooggeregshofsaak bevestig as eiendom van die Pacaltsdorp-gemeenskap. Dit is 'n tradisionele kamp- en piekniekplek vir Pacaltsdorpers. "Daar mag nie ontwikkeling of verhuring plaasvind nie, soos dit die wil van Pacaltsdorpers is. Ons wil dit so hou."
'Plaas alle ontwikkeling op ys'
Laminie sê die Khoisanraad eis dat alle ontwikkeling in Pacaltsdorp op ys geplaas word totdat 'n ooreenkoms met die munisipaliteit bereik word. "Verder moet ook eers vasgestel word waar al die ou grafte van die eerste mense wat hier gewoon het, is.
"Die owerhede het metodes om dit te doen. Die boesmantekeninge in Pacaltsdorp is 'n bewys van hul eertydse teenwoordigheid. Voordat hulle grafte nie gevind is nie, kan ons nie ontwikkeling toelaat nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'