GEORGE NUUS - Sowat 2 000 volwasse doeke is deur die Solidariteit Helpende Hand Wes-Kaap-motorfietsklub en Helpende Hand Wes-Kaap, Saterdagoggend, 3 September, aan Jura Care Village-versorgingsoord in Hansmoeskraal oorhandig.
Jura Care spesialiseer in die versorging van mense met Alzheimer se siekte en ander vorme van demensie.
"Dis 'n roeping wat julle uitleef en ons eer julle daarvoor. Doen so voort. Ons bikers het 'n hart vir bejaardes en behoeftiges. Ons sê vir julle baie dankie vir dit wat julle doen. Wat opmerkend is, is liefde wat die mense ontvang," het die president van die motorfietsklub, Corrie van der Westhuizen, tydens die informele geleentheid gesê.
Hy en sowat 14 van sy klublede het Saterdag met hul ysterperde vanuit die Hessequa-streek na Hansmoeskraal gereis om die oorhandiging the doen.
Die span van Jura Care was in die wolke met dié groot en handige donasie.
"Ons het 25 mense wat ons elke dag versorg. Demensie kom nie net voor onder bejaardes nie, maar ook onder jongmense. Ons jongste pasiënt is 43. Ons is uit ons harte uit dankbaar vir die donasie. Dankie is so 'n klein woordjie, maar ons hoop hulle besef hoe dankbaar ons is vir elkeen is," het Marlene van Niekerk tydens die geleentheid gesê.
Jura Care se Johan en Marlene van Niekerk (middel voor) saam met hulle span en lede van die Solidariteit Helpende Hand Wes-Kaap-motorfietsklub, asook lede van Solidariteit Helpende Hand se Ons Winkel in George.
Volgens Marlise Labuschagne, Helpende Hand se assistent streekorganiseerder in die Wes-Kaap, is die doel van die skenking vir bewusmaking van die behoefte vir volwasse doeke by alle te huise en dat die gemeenskap moet hande vat en saam 'n groter verskil maak.
"Die motorfietsryers se harte is altyd oop vir ons bejaardes en bring dan ook doeke saam. Ons as Helpende Hand Wes-Kaap streek het ook 'n groot skenking reeds hier laat aflewer vroeër in die week," sê sy.
President van Solidariteit Helpende Hand Wes-Kaap-motorfietsklub, Corrie van der Westhuizen en sy vrou, Arina, geniet 'n kolwyntjie tydens die byeenkoms.
Sowat 2 000 doeke is tydens die projek ingesamel. Foto's: Kristy Kolberg
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'