Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Sprokiesverhale kan waar word, dis wat Chantel Janse van Rensburg van George-Suid onlangs uitgevind het met die aankondiging van Sarie se matriekafskeidrokkompetisie 2017.
Alhoewel sy haar rok net vir die pret ingeskryf het, kon sy nooit droom sy gaan as een van 30 semifinaliste landwyd wees nie.
"Ek het my nooit self beskou as iemand vir rokke en so nie. Ek's sommer 'n jeans en T-shirt meisie," vertel sy. Maar vroeg in Februarie 2017 het Chantel reeds 'n idee gehad van hoe haar matriekafskeidrok moet lyk.
"Dis nogal 'n groot ding by ons skool. Sommige meisies het al in gr. 11 hul rokke gekry."
Syhet prentjies bymekaar gemaak en dit na 'n ontwerper geneem. Saam het sy en Annalidda du Plessis-Kruger van Jean Nalida in George koppe bymekaargesit en voor Chantel se oë is haar droomrok ontwerp. Sy vertel die jaar het egter aangestap en sy het effe vergeet van die rok wat sy wou hê, tot sy eendag verby Annalidda se winkel gery het.
"Ek het vir my ma gesê sy moet omdraai, want ek's amper seker my rok hang in die vertoonvenster."
Volgens Chantel het Annalidda so baie van haar idees gehou dat sy sommer twee rokke, een vir die George en 'n ander vir haar Klerksdorp-winkel gemaak het. "Dit was egter nie die kleur wat ek wou hê nie, en sy het die ander rok uit Klerksdorp laat kom. Ek kon nie glo dat die rok my pas nie. Dis net so effens by die skouers ingeneem, verder was dit perfek."
Sy vertel na die afskeid wou sy nie graag hê die R7 000-rok moes net in die kas hang nie. In Desember het sy een aand aanlyn die kompetisie gesien en ingeskryf.
Chantel sê sy het amper vergeet van die kompetisie tot sy verlede Sondagoggend gehoor het dat sy onder die Top-30 is.
Besoek Chantel se Facebook-profiel en kliek op die skakel by die inskrywing om vir haar te stem om deur te dring na die finale ronde.
Kyk 'n video hieronder.
Chantel spog bietjie met die rok wat haar 'n top-30 semifinalis gemaak het. Foto. Brumilda Swartbooi
George Herald joernalis, Brumilda Swartbooi, help Chantel hier om haar rok se knopies vas te maak. Chantel sê sy het hulp nodig om die rok aan te trek. Foto. Salette Cloete
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'