GEORGE NUUS - Die gemeenskap van Wildernishoogte kla hul informele huise is vrot en val uitmekaar. Hulle voel niemand gee om wat van hulle word nie, en klagtes vat lank voor daar 'n oplossing kom.
'n Lys van die klagtes, insluitend foutiewe kragbokse, die diens van mobiele toilette en opgradering aan strukture, is onder die aandag van George-munisipaliteit gebring.
Colin Wildeman, 'n gemeenskapsleier hier, sê hy kan nie eens die dakplate regmaak nie. "Daar is oral gate en die hout is al so vrot dit val uitmekaar. Ek kan skaars op my dak klim, want ek is bang ek val dwarsdeur," vertel Wildeman.
'n Paar inwoners het met George Herald gesels oor probleme wat hulle ondervind, wat glo reeds aan die plaaslike wyksraadslid gerapporteer is. Volgens wyksraadslid Marlene Barnardt is sy bewus van die klagtes en is dit by die betrokke direktorate aangemeld. Barnardt het ook gesê dat daar gereeld vergader word met die plaaslike gemeenskapskomitee.
Anna Twigg, 'n pensionaris en inwoner vir die afgelope 17 jaar, vertel haar huis vrot van al die klammigheid en dat sy nie meer so kan voortgaan nie. Twigg het tydens die onlangse nat dae weer gesukkel om haar huis binne droog te hou.
Chantel Edwards-Klose, die kommuni-kasiebestuurder by George-munisipaliteit, sê die klagtes van die foutiewe kragbokse gaan deur die elektriese direktoraat ondersoek word. Verder sê sy die munisipaliteit sal aandag gee aan die lys van huise waar aangemeld is dat elektriese drade laag hang tussen huise.
Madeleine Maswatie (35), wat gekla het dat haar kragboks foutief is, veral in klam weer, is gerus nadat haar boks hierdie week vervang is. Maswatie sê sy moes dit weer onder die aandag van hul wyksraadslid, asook die behuisingskantoor, bring nadat werkers onlangs by haar huis verbygery het.
Edward-Klose benadruk dat, hoewel die munisipaliteit pensionarisse en persone met gestremdhede wie se strukture baie vervalle is en wat boumateriaal nodig het, kan help, hulle nie verantwoordelik is vir die instandhouding van strukture in die algemeen nie.
Edwards-Klose sê ook die hulp wat hulle kan aanbied hang af van beskikbare fondse. Die munisipaliteit kan ongelukkig nie almal help nie, want die instandhouding van strukture bly die verantwoordelikheid van die begunstigdes. Rondom die klagtes van die dienste vir toilette, sê die munisipaliteit dat dit nou net twee keer 'n week gediens word.
Anna Twigg sê as bejaarde kan sy nie self haar struktuur onderhou nie en benodig die munisipaliteit se hulp.
Gedurende die grendeltyd het hulle dienste aangepas na drie keer 'n week, maar omdat meer mense terug werk en skool toe is, en as gevolg van die kostes daaraan verbonde, moes dit onlangs weer verminder word na die standaard twee keer 'n week.
Die munisipaliteit sê die koste om 'n mobiele toilet te diens, insluitend die vyf rolle toiletpapier per toilet, is R680 per maand.
Die munisipaliteit moedig steeds inwoners aan om klagtes aan te meld by die areakoördineerder, Walter Damons, by 044 803 9280 of by die spesifieke direktoraat.
- Na-ure 044 801 6300
- Elektriese dienste 044 801 9222
- (07:45 tot 16:30) of 044 801 9202
- Koopkrag navrae na Itron / Ontec:
- 044 873 5474 (08:00 tot 16:00)
- Onwettige storting 044 802 2900
- Areakantoor / Wilderness 044 803 9280
- Basiese dienste (water en sanitasie) noodgevalle 044 801 9183 of 044 802 2026
- Waterlekkasies 044 801 9453
- Oprig van noodstrukture ná rampgevalle soos vuur of vloed 044 802 2029
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'