Video
WILDERNES NUUS EN VIDEO - 'n Onlangse video waarin gesien word hoe provinsiale verkeerslede hul hande vol het met 'n taxibestuurder (30) wat homself teësit wanneer hulle hom in hegtenis wil neem, het soos 'n veldbrand op sosiale media versprei.
Die voorval, wat verskeie reaksies uitgelok het, het Sondag 8 November op die N2 naby Wilderness plaasgevind.
Jandré Bakker, woordvoerder vir die departement van vervoer en openbare werke in die Wes-Kaap, het die voorval bevestig en gerugte dat die beamptes aangekla word, ontken.
"Ons is bewus van die video wat die rondes op sosiale media doen. Die offisiere was op patrollie tussen Sedgefield en George toe die betrokke taxibestuurder hulle op 'n soliede lyn verbysteek. Daardeur het hy nie net sy eie lewe nie, maar dié van sy passasiers en ander padgebruikers in gevaar gestel," sê Bakker.
Volgens Bakker het die beamptes die taxi telkemale voor hy Wilderness bereik het probeer stop, maar die bestuurder het eenvoudig geweier tot hulle hom uiteindelik tot stilstand gedwing het.
In die video kan gesien word hoe die manlike beampte sy vuurwapen op die bestuurder rig wanneer hy die taxi nader ná hulle hom eindelik tot stilstand gebring het.
Kyk die video hieronder:
"Die bestuurder se gedrag het die beamptes genoop om 'n meer drastiese benadering te volg om hom te dwing om te stop. Dit was onduidelik waarom die bestuurder nie wou stop nie, en die beampte het bloot gesorg dat hy gereed was vir enigiets," sê Bakker.
Die video wys dat terwyl die beamptes poog om die man te boei, hy homself aanhoudend probeer loswikkel en in 'n stadium terug klim in die bestuurderskant van die taxi waarna die manlike beampte hom met pepersproei bydam.
Met die hulp van 'n derde beampte wat toevallig 'n nabye spoedkamera beman het, kon hulle die hardkoppige taxibestuurder in bedwang bring waarna die polisie ontbied is om hom in weg te neem.
"Indien die bestuurder van die taxi die padreëls gehoorsaam het en nie ons beamptes by 'n soliede lyn verbygesteek het nie, sou dit nie nodig gewees het om hom af te trek nie. En as hy gestop het soos daar van hom gevra was, sou die beampte geen rede gehad het om op te tree soos hy het nie," sê Bakker.
Van die kommentare wat op die plasing gevolg het.
Die plasing wat op George #Debate gemaak is.
Sommige ongelukkig oor optrede
Kort na die video op die plaaslike Facebook-groep, George #Debate geplaas is, het die kommentare begin vlieg.
Sommige inwoners meen dat die beamptes se optrede onvanpas was en dat dit nie nodig was hom 'n vuurwapen op hom te rig óf om hom hardhandig te hanteer nie, terwyl ander meen dat dit die taxibestuurder se verdiende loon was.
Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, was die taxibestuurder op 'n waarskuwing vrygelaat om op 21 Januarie 2021 in die George-landdroshof te verskyn. Hy staar klagtes van roekeloos en/of nalatige bestuur sowel as dronkbestuur in die gesig.
•Vroeër die jaar, op Vrydag 7 Augustus, is 'n profinsiale verkeersbeampte, Janneké Bergman, naby die Pacaltsdorp-brug byna doodgeskiet ná sy 'n verdagte voertuig naby Stanmar Motors afgetrek het.
Verskeie menings is gelig in die kommentare op Facebook ná die voorval.
'Ons bring jou die nuutste Wilderness, Tuinroete nuus'