GEORGE NUUS - 'n Poskantoorwerknemer van George het sy kommer gedeel oor die vermindering van werksure wat die Suid-Afrikaanse Poskantoor (Sapo) moontlik van Februarie af wil instel.
"Ek gaan meer as R4 000 per maand op my salaris verloor. En dit te midde van berigte dat die poskantoor ons mediese, pensioen- en werkloosheidsversekering wat van ons salaris afgetrek word, nie oorbetaal nie.
"'n Klomp mense in George het skeidingspakette gevat. Ons het tot 20 Februarie tyd om daaroor te besluit. Die situasie is haglik. Die poskantoor het nie eens geld vir diesel vir die kragopwekker tydens beurtkrag nie."
Volgens Sapo se kommunikasiehoof, Johan Kruger, het 'n totaal van 1 083 werknemers landswyd al pakkette geneem. Hy het nie die getalle vir George nie. "Dit staan alle werknemers vry om vir 'n skeidingspakket aansoek te doen."
Daar is in totaal 52 mense van die pos-kantoor in George. Dit sluit die poskantore en die mense in die sorteersentrum in.
Volgens Kruger word die vermindering in werksure (twee dae minder per week) oorweeg om op personeelkoste te bespaar.
"Geen finale besluit is nog geneem nie, maar die poskantoor moet sy personeelkoste verminder omdat salarisse 'n onaanvaarbare 68% van die totale uitgawes uitmaak. Aangesien die poskantoor oorbeman is, word beplan om skofte só te skeduleer dat die verminderde ure min of geen impak op dienslewering sal hê nie."
Verlede week het Dianne Kohler Barnard, die DA se skaduminister vir kommunikasie, in 'n mediaverklaring gesê die sny van salarisse gebeur te midde van die "plundering" van personeel se mediesefonds- en pensioenbydraes. Personeel en pensioenarisse se mediesefondsvoordele is teruggetrek weens nie-betaling en ten spyte daarvan dat dit maandeliks van personeel se salarisse en pensioene afgetrek word. Deur twee dae per week minder te werk, sal werknemers 'n 40%-vermindering in brutosalaris hê.
In September verlede jaar het Kohler Barnard die Valke versoek om die nie-betaling van personeelbydraes tot hul mediese fonds en pensioen- en Werkloos-heidsversekeringsfonds te ondersoek.
Op daardie stadium het die nie-betaling van die mediese fonds opgeloop tot R700 miljoen.
Verlede week het sy gesê sy is verseker dat die Valke se ondersoek in 'n gevorderde stadium is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'