Chantel Edwards-Klose, skakelbeampte van die George-munisipaliteit, het gesê: "Die projek, onder leiding van die onlangs aangestelde Desmond Carolus, gee vir hierdie werksoekers hulp met die verkryging van tydelike en voltydse indiensneming, deur 'n plasingsprogram, waar hulle gratis registreer en by 'n gemerkte versamelpunt aanmeld."
Volgens Carolus is daar op die oomblik 83 geregistreerde werkloses wat elke Maandag tot Saterdag vanaf 07:00 by die versamelingspunt in Industrieweg aanmeld. "Die vaardighede wat beskikbaar is sluit in verwers, vurkhyseroperateurs, sweisers, masjienoperateurs en algemene werkers. Daar is 'n aantal boukontrakteurs, fabriekeienaars en privaat huiseienaars wat gereeld werkers optel vir verskeie projekte. Vier van die geregistreerde werkers het tot dusver permanente werk gekry en ses is geïdentifiseer vir verdere opleiding deur 'n meubelfabriek in George."
Carolus het gesê daar is 'n afname in die aantal werkers wat nog in 1ste en 2de Straat staan. "Die eerste registrasieproses het vroeg in Mei vanjaar plaasgevind en 40 werksoekers is uit die groep gekies en deur George se munisipale departement omgewingsake gebruik vir die skoonmaak van die Rooirrivier, Witfonteinstroom, asook die Molenrivier en Schaapkoprivier.
"Die projek gaan nie net oor die versamelingspunt en die registrasie nie, planne is in plek om verdere opleiding te koördineer, asook die skenking van toerusting aan die geregistreerde werkers. 'n Privaat skenker maak elke Dinsdag en Donderdag voorsiening vir 'n sopkombuis en 560 etes is sedert die begin van die projek geskenk."
Uitvoerende onderburgemeester, Daniël Maritz, portefeuljeraadslid vir menslike hulpbronne, het benadruk dat die geïntegreerde benadering van die projek tot sy sukses sal lei, en het gesê: "Hierdie gekoördineerde benadering toon dat die George-stadsraad bewus is van die uitdagings wat deur die werkloses en haweloses ondervind word en terselfdertyd, toon ons 'n positiewe reaksie op die bekommernisse van sake-eienaars en inwoners wat geraak word deur werkers wat rondslenter, vullis strooi en algemene veiligheid."
Die uitvoerende burgemeester, Charles Standers, het 'n beroep op alle individue en sakeondernemings, wat werkers daagliks optel gedoen om gebruik te maak van hierdie werkers versamelingspunt.

Die registrasieproses van Men at the Side of the Road het vroeg in Mei vanjaar plaasgevind en 40 werksoekers is uit die groep gekies en deur die George Munisipale Departement Omgewingsake gebruik vir die skoonmaak van die Rooirrivier, Witfonteinstroom, Molen- en Schaapkopriviere.
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'