Gallery
GEORGE NUUS - Nieteenstaande moeilike tye was daar Saterdag groot glimlagte op die gesigte van baie mense in New Dawn Park.
Uplifting Hands, 'n gemeenskaps-organisasie, het as deel van sy verjaars-dagviering, kos en komberse aan mense uitgedeel. Talle mense het met kosbakkies opgedaag en iets heerlik ontvang om te eet.
Danzel Gericke, stigterslid, het gesê die organisasie was onlangs drie jaar oud. Die uitreikaksie is deel van hul verjaarsdagviering.
Die doel van die organisasie is om te help waar daar nood in die gemeenskap is en kos, klere, komberse en lakens word by tye uitgedeel.
Die nood is hoog en die Covid-19-situasie het dinge baie vererger. Daar is baie werkloosheid in die gebied. "Wat gaan gebeur as die mense nie werk kry nie? Misdaad gaan weer toeneem," het hy gesê.
Fotogalery: Uplifting Hands bring glimlagte op New Dawn Park
Volgens hom het die organisasie sowat 70 lede en hulle samel self die goedere in.
Hulle kry ook borge wat help en sal graag wil sien dat meer mense en maatskappye betrokke raak.
Die organisasie is besig om sy werksaamhede uit te brei. Dit sluit in die vestiging van 'n voedselskema en ook 'n projek om mishandelde vroue en kinders te help.
Mense wat wil help kan hom by 073 504 3588 kontak of 'n e-pos stuur aan upliftinghands777@gmail.com.
Een van die mense wat Saterdag gehelp is, was Tanya Booysen. Sy is van Moeggehuur, 'n informele nedersetting daar naby.
"Ek is baie dankbaar vir die hulp, ek is al ses jaar werkloos," het sy gesê.
Sy bly aan die lewe deur hier en daar iets te vra. Met Covid-19 is dit nog moeiliker om te oorleef.
Komberse is Saterdag deur Uplifting Hands in New Dawn Park uitgedeel.
Foto's: Eugene Gunning
The community organisation Uplifting Hands handed out food and blankets to New Dawn Park residents on Saturday as part of the organisation's three-year birthday celebrations.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'