Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Stuk grond langs Rooirivierrif-sportklub, wat vroeër geïdentifiseer is vir behuisingsontwikkeling, gaan nou omskep word in 'n wêreldklas kleibaan vir tennis.
George-stadsraad het verlede Donderdag, 24 Februarie, die groen lig vir dié projek gegee, wat deur 'n privaat ontwikkelaar behartig word.
Ofskoon die DA in die raad verskeie redes aangevoer het waarom so 'n toevoeging 'n blink idee is vir sporttoerisme in George, reken van die opposisielede die raad se prioriteite is misplaas.
Virgill Gericke van die PBI het in die raad gesê hy beplan om die saak by die openbare beskermer aan te meld.
Terugvoer van George-munisipaliteit oor die kwessie is vanoggend ontvang. Lees hul volledige terugvoer verder in die artikel.
Volgens Gericke wag sowat 20 000 huisgesinne in George op 'n huis. "Hierdie grond is geoormerk vir behuisings-ontwikkeling tydens 'n raadsvergadering
in 2017. Met so 'n groot tekort aan huise vir die middelklas maak dit geen sin om nog tennisbane te bou nie," het hy vandeesweek gesê. Die PBI bevraagteken die publieke deelname proses en die tenderproses wat die raadsbesluit voorafgaan.
VIDEO - Tennisbane vir sporttoerisme kry pothou van PBI:
"Is dit regtig die beste wat ons met die grond kan doen? Om 'n tennisbaan te bou?" het Gericke gevra.
"George se infrastruktuur is tans onder geweldige druk. Alvorens dit nie behoorlik opgegradeer word nie, kan die dorp nie projekte van die grootte hanteer nie."
Gericke reken ook die betrokke wetgewing waaronder die grond toegeken is, is nie voldoende nie en voldoen nie aan die bepalings van die munisipale finansies wet nie.
"Hierdie wet maak onder andere voorsiening vir 'n kompeterende tender-proses en deursigtigheid in geval daar ander belangstelling is. Ons kan nie net grond weggee onder die voorwendsel dat dit die 'gemeenskap' sal bevoordeel nie. Hierdie sal 'n eksklusiewe projek wees vir uitgesoekte mense en toernooie. Ons bevraagteken ook baie sterk hoekom die grond aan 'n eenmansaak toegeken word en hoekom mededingende belanghebbende liggame nie ingesluit word nie."
Senior munisipale kommunikasiebeampte, Ntobeko Mangqwengqwe, gee terugvoer:
Op 26 November 2021 het die raad in beginsel goedkeuring gegee vir 'n aansoek om die vervreemding van Erf 16467, George, vir die oprigting van 'n wêreldklas-tennisfasiliteit.
Die raad het ook 'n publieke deelnameproses goedgekeur waarin teenvoorstelle en openbare kommentaar en vertoë gevra word. Nadat die raad op 24 Februarie 2022 geen teenvoorstelle of besware ontvang het nie, het die raad besluit om die gedeelte grond te verkoop ingevolge die munisipale bate-oordragregulasies en die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur, 2003 (Wet 56 van 2003).
Die ontwikkeling sal oor die volgende paar jaar uigetrol word en sal die ontwikkeling van die eerste kleitennisbaan ooit in Suid-Afrika meebring. Die projek het die ondersteuning van 'n aantal nasionale en internasionale tennisorganisasies en sal 'n unieke verkoopsgeleentheid vir George bied - in terme van sportaktiwiteite, toerisme en ekonomiese ontwikkeling.
Die volgende stap is om 'n verkoopsooreenkoms aan te gaan wat die lewerings tot tydraamwerke sal insluit om die suksesvolle en tydige ontwikkeling te verseker.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'