Gallery
GEORGE NUUS - Oud en jonk is Saterdag 31 Julie in George saamgesnoer toe Bianca Buitendag, silwermedaljewenner in branderplankry by die Olimpiese Spele in Japan, met oop arms in haar tuisstad terug verwelkom is.
Tonele van uitbundige vreugde het in die aflaai-en-ry-sone van die George-lughawe afgespeel en trane het selfs gevloei.
Groot getalle mense, waaronder talle met branderplanke, het reeds vroeg opgedaag om George en Victoriabaai se eie branderplankkampioen terug te verwelkom.
Buitendag (27) was die eerste Suid-Afrikaanse medaljewenner wat na Suid-Afrika teruggekeer het. Sy het Saterdag kort voor 10:00 op 'n vlug van Johannesburg geland. Die ander passasiers is toegelaat om eers af te klim en van hulle het vertel dat hulle ingelig is oor wie aan boord is en dat sy in die vliegtuig spontaan toegejuig is.
Na Bianca die lughawegebou binnegestap het om haar bagasie te kry, waaronder haar branderplank waarmee sy op 27 Julie die silwermedalje verower het, is sy deur burgemeester Leon van Wyk, en Dirk Wessels, 'n burgemeesterskomiteelid terug verwelkom met 'n bos blomme en 'n erken-ningssertifikaat.
Bianca groet haar ma, Yvette, en ander familie met haar aankoms. Foto: Eugene Gunning
Sy het daarna geduldig die media te woord gestaan terwyl haar familie op 'n afstand vir haar gewag het.
Bianca het aan George Herald vertel dat sy nie die verwelkoming verwag het nie. "Ek is baie bly om terug te wees. Elke keer as ek huis toe kom, is ek homesick tot in my tone," het sy gesê.
Fotogalery: George verwelkom Bianca
Toe sy kort na 10:00 na buite stap, het 'n luide applous losgebars. Sy het 'n bos proteas ontvang en deur 'n erewag van branderplanke gestap. Sy moes bontstaan want talle mense wou met haar gesels en saam met haar vir foto's poseer. Lede van die koor van Life Christian Academy het haar in trane gehad met hulle sang. Bianca was duidelik aangedaan en het in een stadium haar silwermedalje om die nek van 'n koorlid, Linathi Plaatjies (6) gehang.
Daarna het sy op 'n triomftog deur George se strate vertrek. Uiteindelik het Bianca huiswaarts gekeer na haar geliefde Victoriabaai.
Buitendag hang haar silwermedalje om Linathi Plaatjies (6) se nek. Foto: Lizette da Silva
Uittrede en toekomsplanne
Sy is nie van plan om haar besluit te heroorweeg om uit te tree nie. "Dis nou verby en dis 'n goeie manier om dit te doen." Buitendag het Maandag gesê sy gaan beslis nie meer mededingend aan branderplankry deelneem nie of afrig nie. Sy sal nog branderplankry vir ontspanning.
Sy is wel van voorneme om einde Augustus, in samewerking met die George-munisipaliteit, 'n branderplankrygeleentheid by Victoriabaai vir meisies aan te bied.
Volgens haar gaan sy ook betrokke wees by Life Community Services, maar die besonderhede moet nog gefinaliseer word. Die instansie het 'n skoolterrein in Conville en op die oomblik is daar semi-permanente strukture. Sy wil daar help sodat 'n skoolsaal en klaskamers gebou kan word en alles onder een dak is.
Mense wat meer inligting oor die instansie wil bekom kan die webtuiste: www.lifecommunity.co.za besoek.
Bianca het kort na haar aankoms 'n bos blomme en 'n erkenningssertifikaat van Leon van Wyk, George se burgemeester, en Dirk Wessels, 'n burgemeesterskomiteelid ontvang. Foto: Eugene Gunning
MUST - Bianca, agterop die bakkie, vertrek Saterdag op 'n triomftog vanaf die George-lughawe. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'