Video
GEORGE NUUS & VIDEO - Elroy Gelant, wat George en Suid-Afrika trots gemaak het in die mansmarathon by die Olimpiese Spele, is vanoggend met ope arms verwelkom in die stad waar alles begin het.
Gelant (34) het nog verlede Sondag in Japan deelgeneem en Dinsdag na Suid-Afrika teruggekeer. Hy het daarna na Potchefstroom vertrek waar hy deesdae woon en werk.
Elroy het egter nie vergeet waar hy oorspronklik vandaan kom en vanoggend (14 Augustus) het hy na George teruggekeer.
Talle inwoners van Pacaltsdorp, waar hy sy jeugjare deurgebring het was onder diegene wat hom verwelkom het.
Sy besoek was danksy gemeenskapsleier Virgill Gericke en mense van die gemeenskap.
Kyk video's hieronder.
Van die ondersteuners wat Elroy verwelkom het. Foto: Kristy Kolberg
Elroy se vliegtuig het kort voor 09:00 op George-lughawe geland. Hy is in die aankomssaal verwelkom deur onder meer sy ouers Steven en Yvette Gelant, die burgemeester van George, Leon van Wyk, die wyksraadslid waar Elroy se ouers steeds woon, Cecil Noble, die visepresident van atletiek SA, Shireen Noble en die visepresident van SWD Atletiek, Moses Gericke.
Kyk video's hieronder.
Toe Elroy 'n rukkie later na buite stap het luide applous losgebars. Elroy het in 'n stadium die aanwesiges toegespreek. Hy het gesê dit is 'n eer om terug te wees. Toe hy aankom met die vliegtuig was die eerste dinge wat hy gesien het die beeste en see. "Toe weet ek, ek is tuis."
Die geleentheid by die lughawe is afgesluit met die sing van Suid-Afrika se volkslied. Later het 'n optog deur die strate plaasgevind.
Elroy Gelant saam met sy ouers Yvette en Steven vanoggend op die lughawe. Foto: Eugene Gunning
Orah Parks van Pacaltsdorp het Elroy ingewag met 'n plakkaat. Foto: Eugene Gunning
Onder diegene wat Elroy verwelkom het was Denver Bosman. Hulle is vriende. Foto: Eugene Gunning
VIDEO'S: EUGENE GUNNING
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'