GEORGE NUUS - 'n Plaaslike advokaat, dr. Lukas du Preez, was ná 'n besoek aan die Bossiesgif-buurt in Rosemoor verlede week so geskok deur die hoeveelheid rommel wat die gebied ontsier, dat hy besluit het om betrokke te raak en 'n oplossing te vind.
Dit was die eerste keer dat hy in die area kom. Hy is uitgenooi na die George Community Church om 'n kort aanbieding daar te doen. Reg langs die kerk is 'n leë perseel waar onwettige vullisstorting voortdurend plaasvind.
"Ek is uiters bekommerd, want die ongesonde en onooglike omstandighede is vir seker nie bevorderlik vir enige pogings om die lewens van jong kinders te verbeter nie. Hoe kan 'n kind van 7 of 8 jaar ooit selfrespek, waardigheid en 'n positiewe vooruitsig vir die toekoms hê in hierdie omstandighede?
"Ek is ingelig dat die probleem al baie lank bestaan en talle pogings van gemeen-skapsleiers, politici en die munisipaliteit om 'n oplossing te vind deur die plaaslike gemeenskap betrokke te kry, nie die gewenste resultate opgelewer het nie."
Du Preez sê verskeie organisasies werk daaraan om lewens te verbeter, maar hy meen behoorlike koördinering is nodig tussen al die rolspelers vir groter en 'n meer blywende impak.
Soptannie kry skeepsvraghouer en afdak
Du Preez het Maandag met 'n gemeen-skapsleier in Bossiegif, Zway Ntaka, en 'n bekende weldoener in die gemeenskap, Liane Venter van die welsynsorganisasie Harmony Spiritual and Emotional Healing, in Bossiesgif ontmoet om die bal aan die rol te sit.
Ook by die ontmoeting was David May van die nie-winsgewende organisasie, Empower, wat hom toespits op die ontwikkeling van entrepreneurs in arm gemeenskappe en die bemagtiging van mense wat reeds in hul eie gemeenskap hulp verleen.
Du Preez is ook bekendgestel aan 'n Bossiegif-inwoner, Mieta Matroos (68), wat ten spyte van haar eie karige omstandighede vir jare reeds drie keer per week sop kook vir tussen 40 en 50 kinders. Sy moet buite op 'n sinkplaat en oop vuur in haar tuin kook. Die reën en koue skrik haar nie af nie, maar teen die middel van die maand is die voorraad gedroogde groente wat sy van die George-munisipaliteit ontvang, reeds op.
Nadat Du Preez haar omstandighede gesien het, het hy aan die werk gespring en teen die middag het hy reeds 'n skenker vir 'n skeepsvraghouerhuis gekry en 'n bouer wat 'n afdak en braai gaan oprig waar Matroos kan kos maak.
Mieta Matroos kook vir die kinders op 'n sinkplaat in haar erf, maar sy kan uitsien na 'n behoorlike afdak met 'n braai. Foto's: Alida de Beer
Fasilitering om vullisprobleem te stop
Du Preez sê dit is noodsaaklik dat 'n betekenisvolle fasiliteringsproses begin moet word waarby verteenwoordigers van al die geïnteresseerde partye betrokke moet wees en hande vat om 'n oplossing vir die vullisprobleem te vind. Hy meen 'n deeglike bewusmakingsprogram is die eerste stap, waarna daar aan 'n oplossing gewerk kan word.
"'n Aantal gemeenskapsleiers is saam met my gewillig om betrokke te raak in 'n fasiliteringsproses in hierdie verband," het hy gesê.
Mense wat graag op een of ander manier wil bydra tot Du Preez se pogings om oplossings te vind, kan hom kontak by 083 700 3134 of dpa@lantic.net.
n Benewens Venter wat reeds in hierdie gemeenskap hulp verleen, het Freddy Trout van People against Substance Abuse (Pasa) onderneem om praatjies vir ouers oor dwelm-misbruik onder kinders te kom gee.
Mieta Matroos saam met mense wat 'n verskil wil maak, van links: adv. Lukas du Preez, Liane Venter (Harmony Spiritual and Emotional Healing), Zway Ntaka (gemeenskapsleier), Rudolph Wicomb en David May (Empower).
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'